Drie vas oor koedoebul in Laersdrift omgewing
Boere in die Laersdrift omgewing het verlede week daarin geslaag om drie mans met 'n koedoe in hul bakkie te betrap.
Volgens inligting het een van die boere, wat anoniem wil bly, ‘n skoot gehoor en besluit om die hulp van sy buurmanne in te roep om ondersoek in te stel. Onwettige jag, wildstroping asook die slag van beeste, is ‘n groot kopseer vir boere in die omgewing.

‘n Verdagte voertuig is op die Laersdrift grondpad vasgekeer. Agter in die voertuig was ‘n groot koedoebul.
Eric Louw Vorster (55) van Laersdrift, Dennis Vorster (28) van Tersia Hof in Pretoria en Quintin Vorster (29) van Koos de la Reystraat in Pretoria, is deur die Laersdrift Polisie gearresteer en aangekla van wildstroping.

Hulle het reeds in die hof in Middelburg verskyn. Eric Vorster is op waarskuwing vrygelaat terwyl Dennis en Quintin Vorster in aanhouding bly tot hul volgende hofverskyning. Hulle is in die Belfast Polisieselle aangehou.
Die volgende hofverskyning was gister (Donderdag) die uitkoms daarvan was nie bekend teen druktyd nie.

