Video’s: ‘n Dorp met bloed op sy hande…
Die berig en video van Maandag se bakleidry langs die Klein Olifantsrivier, het landwyd op www.mobserver.co.za reaksie ontlok.

Die afgelope drie jaar alleen, was daar talle aanrandings wat tot sterftes en selfmoord van slagoffers gelei het.
• In Maart 2013 is Louis Groenewald ‘n dag nadat hy met een vuishou deur Freddie Kidson naby Sideline nagklub katswink geslaan is, dood weens breinbloeding. Kidson is ‘n opgeskorte vonnis opgelê.
• In April 2013, is Antoon Viljoen bebloed geslaan by Amazon’s Restaurant deur die bekende sakeman Tertius Verwey en sy seun Jacques, wat tot ‘n klag teen die Verwyes gelei het.
• In September 2014 het Dewald Jacobs in sy matriekjaar selfmoord gepleeg, nadat hy deur twee mans buite Burger
Hut aangerand is. Die vernederende aanranding is op videokamera vasgelê.
• In November 2014 het me. Suzette Dibden haar jong buurvrou, Johanné Spies, met pepersproei getakel weens ‘n voortslepende geveg oor ‘n erfnommer. Dibden is skuldig bevind aan aanranding met die opset om Spies ernstig te beseer, moes haar mediese kostes betaal, en is ook ‘n opgeskorte vonnis opgelê.
• In 2015 is die bekende pediater, dr. Allan Kok met ‘n mes gesteek tydens ‘n onderonsie met Liam Niemandt, met wie se vrou dr. Kok glo ‘n buite-egtelike verhouding gehad het. Na Niemandt geskei is, het die verhouding tussen dr. Kok en mnr. Niemandt se eks, Chantal, voortgeduur.
• In Julie 2016 is Ettienne de Necker in Belfast doodgeslaan deur ‘n groep mense wat hom onder meer met bottels en stokke getakel het. ‘n Polisievrou wat na bewering van diens af was, was glo ook op die toneel sonder om die aanval op De Necker te stop.
• In September 2016 moes mnr. Ferdi van den Berg ‘n operasie aan sy oogbank ondergaan nadat Alex Curtis hom by die Middelburg Buiteklub aangerand het.
• Op Kersdag vanjaar is me. Juanita Botha na bewering by haar huis aangerand deur ‘n vriend se vrou wat hulle verdink van ‘n verhouding. Me. Botha sê sy is deur haar veiligheidshek aan haar hare beetgekry, en ‘n bos daarvan is deur “die skelmpie” se vrou en dogter uitgepluk.
