Gepeupelreg lei tot moord
Drie jong mense is deur die polisie gearresteer in verband met 'n moord in Nasaret.

Volgens Kapt. Khanyisile Zwane, polisiewoordvoerder, het polisielede op patrollie in die vroeë oggendure Woensdag, op ‘n man afgekom wat langs die pad lê. Met nadere ondersoek het hulle vasgestel dat hy dood was.
Die liggaam het duidelike tekens van erge aanranding gehad, maar daar was nie een druppeltjie bloed op hom nie.
Dit blyk asof iemand hom gewas het om van die bloed ontslae te raak, omdat sy hele liggaam en sy klere papnat was.
Die polisie se ondersoek tot op hede kon bepaal dat die man se dood moontlik spruit uit ‘n voorval wat die vorige dag plaasgevind het.

Volgens inligting het ‘n vrou in Nasaret haar teen ‘n vermeende inbreker vasgeloop by ‘n skrootwerf. Die persoon het weggehardloop, maar die vrou het hom herken. Sy het toe glo die hulp van die gemeenskap ingeroep om hom vas te trek.
Die gemeenskap het die verdagte gevang en aan ‘n paal vasgemaak waar hulle hom aangerand het. Die vrou se man het later op die toneel aangekom en aangedring dat hulle die verdagte laat gaan en hy is uiteindelik los gemaak.
Sy liggaam is ure later gevind.
Simonique Essack (28), Alvender Ismael (18) en Ebrim Davids (22), is teen Woensdagmiddag gearresteer.

Hulle het Donderdag in die hof verskyn op aanklagte van ontvoering en moord. Die oorledene was nie teen druktyd amptelik uitgeken nie.
Lees ander nuus hier:
Armed robber shot at e’Mhluzi Mall
Tracers kroeg vroegoggend deur inbrekers geteiken
VIDEO: Die voete dans by Platform Reünie