Voormalige eienaar van Damelin stap vry uit hof
Mark Shields, die voormalige eienaar van Damelin Middelburg, is onskuldig bevind en ontslaan op drie aanklagte van bedrog.
Shields se prokureur, Drikus Lombard, het die aansoek om ontslag gebring, nadat die staat hul saak teen Shields afgesluit het met die getuienis van ‘n verteenwoordiger van die Departement van Onderwys.
Die getuie was oortuig daarvan dat Shields die matriek eksamenrooster voor haar vervals het, omdat die datum daarop nie ooreengestem het met die nasionale eksamen datums nie.
Mnr. Lombard het egter die wind uit haar seile gehaal toe sy moes erken dat sy nie die geldigheid van die betrokke kandidaat se rooster op die departement se databasis nagegaan het nie, omdat sy die dokument nie vooraf onder oë gehad het nie.
Hy het gesê dat die getuienis voor die hof genoegsaam onder kruisverhoor in twyfel getrek is en dat dit teen sy kliënt se konstitusionele reg indruis om hom in die getuiebank te plaas, waar hy homself moontlik kan inkrimineer terwyl daar nie oortuigende bewyse is om dit te regverdig nie.
Landdros Johan de Klerk het bevind dat die staat nie genoegsame bewyse teen Shields gehad het nie.
Een van die klaers, Freda Kruger, het na die hofsaak gesê dat sy woedend is oor die hofuitslag.
“Nou sit hy lekker en lag en ons kinders is nogsteeds sonder matriek, en ek het derduisende rande verloor.
Maar wraak kom ons nie toe nie.”
Lees vorige storie hier:
Shields in court over Damelin complaints
More allegations against Shields
Lees ander nuus hier:
Armed robber shot at e’Mhluzi Mall
