Inbrekers teister ploteienaars
Ploteienaars op die ou Witbankpad word geterroriseer deur twee misdadigers, wat bekend is onder die gemeenskap. 'n Middeljarige vrou en haar bure is besteel.
Ploteienaars op die ou Witbankpad word geterroriseer deur twee misdadigers, wat bekend is onder die gemeenskap. ‘n Middeljarige vrou en haar bure is besteel.
Me. Isabel Henrico sê dat sy omstreeks 01:00 opgestaan het om vir haar te gaan koffie maak, omdat sy nie weens die swaar donderstorm kon slaap nie.
Alles was tóé nog pluis, maar toe sy later weer opstaan om te gaan koffie maak, het sy gemerk haar voordeur staan oop.
Sy het aan die veiligheidshek gevoel en gesien dit is ook oop.
“Ek kon nie een van die deure toekry nie, en het besef iets is verkeerd, toe ek na my TV-kas draai, het ek gesien die TV en my DVD speler is weg, dis al waarmee hulle weggekom het,” het me. Henrico Maandag verlig aan die Middelburg Observer vertel.
Haar buurman, die plaaslike makelaar, Jaco Botha, het ook gedurende dieselfde tyd deurgeloop.
Hy sê dat sy kinders gelukkig nie tuis was nie, en dat hy en sy vrou hul kamerdeur gesluit het voordat hulle in die bed geklim het.
“Ons het ook niks gehoor nie, en gelukkig was ons deur gesluit,” sê mnr. Botha.
Die inbrekers het toegang tot sy huis verkry deur die agterdeur oop te breek.
Mnr. Botha sê dat hulle deur drade in sy agterplaas, en verskeie draadheinings op hul ontsnaproete moes knip.
Die inbrekers het ‘n platskerm TV, DVD speler, eksterne hardeskyf, twee Tablette en van sy vrou se juwele uit die huis gesteel.
Hulle het sy bakkiesleutels gevat en die motorhuis ook gaan oopbreek waar hulle die bakkie se radio gegaps het.
“Hulle is vort met die sleutels en my bakkie staan,” sê mnr. Botha.
“Die Here het ons beslis gespaar,” glo me. Henrico wat bylas dat sy nog altyd veilig op die plote gevoel het.
