News

Honde byt jakkals dood

'n Bakoorjakkals is Dinsdag in die vroeë oggendure deur boerboele in 'n erf in Dennesig doodgebyt.

Volgens mnr. Marius Jordaan het hulle omstreeks 03:00 iets buite gehoor en het hy uitgegaan, maar niks gesien nie.

Teen ligdag het hy die dooie bakoorjakkals in sy erf gekry.

Hy was verstom toe hy die dooie dier kry en het hom dadelik na die Oribi Dierekliniek toe gevat.

Hulle het bevestig dat dit ‘n bakoorjakkals is en dat hy deur die honde doodgebyt is.

Mnr. Jordaan was skrikkerig dat die dier dalk hondsdolheid het, maar hy is verseker dat daar geen skuim om die dier se bek was nie.

Volgens dr. Annelize Enslin (van die Oribi Dierekliniek) is hierdie jakkalsies skadeloos en het nie tande soos ander jakkalse nie. Hulle vang gewoonlik net insekte. Die jakkalsie is net groter as ‘n gewone huiskat.

Sy vermoed die jakkalsie het in die woongebied ingekom om moontlik in asblikke rond te krap vir oorskietkos.

Mnr. Jordaan sê hierdie klein jakkalsies kom algemeen op sy familie se plaas in die Karoo voor.

Die skaapboere maak hulle ook nie dood nie, omdat hulle geen gevaar inhou nie.

•Volgens inligting op Internet (Wikipedia) staan die bakoorjakkals (weens sy groot ore) ook bekend as die draaijakkals en kom in Oos- en Suid-Afrika voor.

'n Foto van 'n bakoorjakkals in die veld. Hulle leef gewoonlik van insekte en is heeltemal skadeloos. FOTO: Internet.
‘n Foto van ‘n bakoorjakkals in die veld. Hulle leef gewoonlik van insekte en is heeltemal skadeloos. FOTO: Internet.

Die naam “draaijakkals” dui op die dier se gewoonte om op sy spoor terug te draai.

Hierdie jakkals het ‘n grysbruin pels en groot, breë ore wat binne-in wit is.

‘n Gemiddelde volwasse draaijakkals het ‘n massa van 5kg, ‘n lengte van ± 80 cm en ‘n hoogte van ± 35 cm. Sy ore is ongeveer 13cm lank en goed ontwikkel is om by veral woestynklimaat (waar hulle baie algemeen voorkom) aan te pas.

Hulle lewe van insekte en ander goggas, muise en ander knaagdiere en wilde vrugte.

Hulle sal ook soms klein voëltjies vang of voëleiers eet. Sy gebit lyk ook meer soos dié van ‘n inseketer as van ‘n roofdier en het tussen 40 en 46 klein tandjies.

Die bakoorjakkals is meestal snags aktief.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button