Waarheen met oudste kompetisie in die wêreld?
Gaan goue trofee ekstra sterk kerrie kry om hom te red of is dit die einde van die Currie?
Een van die oudste rugby kompetisies in die wêreld se toekoms word more bespreek.
Die afgewaterde Curriebeker reeks gaan deur Suid-Afrikaanse rugby onder die loep geneem word.
Die Curriebekertoernooi was vir jare Suid-Afrika se belangrikste plaaslike rugbykompetisie.
Die Curriebeker dateer so ver terug as 1889 en is een van die oudste rugbykompetisies ter wêreld. Die toernooi word as die hoeksteen van Suid-Afrika se rugby-erfenis beskou. Tussen 1892 en 1966 is daar op ongereelde grondslag om die beker meegeding, maar sedert 1968 word ’n wenner jaarliks bepaal.
Toe die Pumas die Curriebeker gewen het was dit groots. Daar is deur Mpumalanga getoer met die beker en duisende mense het opgedaag om fees te vier. Dit was nie net ’n beker nie, dit was ’n belewenis. Dit was groter as die Wêreldbeker vir die provinsie.

Hoe dan anders met soveel tradisie?
Noem die name John Knox, Tommy Symons (wat later vir Middelburg senter gespeel het), Thys Lourens, Louis Moolman, Naas Botha Carel du Plessis, Frik du Preez en Buurman van Zyl en jy dink Curriebeker.
“Dié goue trofee is steeds die hoogste prys in plaaslike Suid-Afrikaanse rugby.”
Maar is dit?
Nee!
Die rugbylandskap het radikaal verander.
Rugby soos die publiek dit geken het is verby.

Plaaslike helde wat by klubs gespeel en vir hulle provinsies gekies is, is al jare gelede iets van die verlede.
Die intimiteit van rugby is verby.
Klubrugby sterf ’n stadige dood…behalwe by die Bulle en in die Suid-Kaap.
Talle dorpe het nie meer rugbyvelde en klubhuise nie.
In die plek daarvan het ryk reekse gekom soos die Verenigde Rugby Kampioenskap.
Die Curriebeker is ’n steen ses aanstoots vir die Stromers, Bulle, Haaie en Leeus.
In ’n mindere mate die Leeus, wat hulle bes probeer om mededingend te wees in die reeks.
Die Haaie en Bulle probeer hulle spanne kamoefleer deur hulle vyftientalle te noem. Die Stormers noem dit ’n 23-tal.
Maak nie saak wat die spanne genoem word nie, die provinsies se handelsmerk word steeds groot skade aangedoen, deur nederlae teen aspoestertjies soos die Boland.
Die Bulle en Stormers se geploeter is ’n vernedering vir die provinsie, sy ondersteuners en sy spelers.
Maak nie saak wat hulle die spanne noem nie, dit bly Bul, Stormer en Haai.
Die Burger berig vanoggend: “Na Kavaliers-debakel is dit swak, swakker, Stormers XXIII.”
Na twee lelike nederlae teen die einste Boland en Griekwas het die Bulle vyftiental se afrigter, Phiwe Nomlomo, more ’n sessie met joernaliste. Dit is waarskynlik om vure dood te slaan.
Dié provinsies se ondersteuners het genoeg gehad.
Dit is maar weer die selfde treurmare as verlede jaar.
Dit lyk in elke geval asof die uitspeelwedstryde soos die laaste twee jaar, waar daar om die SA Beker meegeding is om vir die Curriebeker te kwalifiseer, iets van die verlede gaan wees.
Van die unies sal waarskynlik wil hê dat al die provinsies selfs die Grens, Valke en Noord-Vrystaat in die Curriebeker speel.
Dit sal hulle goed pas.
Dan is die afgewaterde Curriebeker behoorlik afgewater.
’n Bulle span behoort nie teen die Valke of Grens te verloor nie.
Maar waar plaas dit die Vrystaat, Griekwas en Pumas?
Hulle wat nie deel is van die groot VRK-koek nie?
Wat maar tevrede moet wees om aan die agterspeen te suig?
Die werklikheid is dat daar nie meer plek is in die besige rugbyprogram vir die Curriebeker nie.
Nie vir die Bokke en die hoogsbetaalde VRK spelers nie.
Dit gaan groot wysheid verg om met ’n oplossing vorendag te kom.
En dit is net hier waar die groter unies hulle VRK-rokke moet uittrek en soos die rugbypubliek dink..
Toeskouers soek krag teen krag.
Die spelers soek meer prestige.
Die Haaie, Bulle, en Stormers, moet in belang van Suid-Afrikaanse rugby soos die Leeus maak en meer in die Curriebeker belê.
Die Leeus het nie verniet verlede jaar in die eindstryd gespeel nie.
Wie gaan op ’n Vrydagaand kyk hoe speel die Pumas teen Grens in die Mbombela Stadion?
Maar noem Bulle en die produk lyk al klaar beter.
Boland is ’n goeie voorbeeld wat bereik kan en moet word.
Die volgepakte stadion op Wellington, die skitterende rugby wat gespeel word en die rugbyatmosfeer soos van ouds op die Johan van Riebeeck Stadion, is wat gemeenskappe wil sien.
Vat die rugby dan maar weer terug na die mense.
Dorpe verdien dit, klubs verdien dit, die spelers wat nie deel is van ’n elite groep nie, verdien dit.
Ja, die rugbyprogram is vol, maar kies aan die einde van die reeks ’n Carling Black Label Curriebeker span wat in ’n prestige wedstryd speel. Die Curriebeker uitsoek vyftiental teen die Suid-Afrikaanse Kwaggas of Barbarains.
Die oud Suidoos-Transvaal rugby kaptein, Menanteau Serfontein, het gesê dit sal baie jammer wees indien Curriebeker rugby aan ’n einde sou kom.
“Ek hoop en vertrou dat die rugbybase ’n manier sal vind om Curriebeker rugby te laat voortgaan.”
Marius Noeth wat betrokke is by die herlewing van die Blesbokke, die Suidoos-Transvaal B-span, sê “die Curriebeker moet bly want dit is deel van ons rugby tradisie. Waarom karring ons aan tradisionele trots?”
Die Curriebeker kan volgens hom herstel word deur kalenderbelyning, finansiële ondersteuning vir kleiner unies, en die terugkeer na gemeenskapsgronde.
