Dief met deur betrap
'n Dief is op heterdaad betrap met 'n deur op sy kop, wat hy Vrydag by die NKP Consultants geboue in Walter Sisulustraat 53, gesteel het.
Mnr. Koen Klopper (voorsitter van die Kanonkop/Dennesig/Middedorp Radiogroep) het afgery in Walter Sisulustraat toe hy die man met die deur op sy kop sien uitstap by die erf.
Mnr. Klopper het vir adj. Sipho Msiza, die voorsitter van die GPF (Gemeenskapspolisiëring forum) in Sektor vier gebel, waarop adj. Msiza die dief gearresteer het.
Mnr. Klopper vertel dat die radiogroep en polisie die afgelope drie weke gereeld na dié eiendom uitgeroep word deur bure in die omgewing.
Met hul aankoms is die booswigte gewoonlik skoonveld. ‘n Week gelede is hulle weer omstreeks 03:00 die Sondag na die huise ontbied.
Die inbrekers was in die huis en het in alle rigtings gespat toe die polisie en radiogroep opdaag. Van skrik het hulle die sekuriteitsdeure oopgehardloop.
Een van die diewe het in die geharwar sy sak met sy persoonlike dokumente in laat val.
Mnr. Klopper het die joernalis deur die huise geneem om te wys watter skade in die afgelope paar maande aangerig is.
Wat ‘n jammergesig is dit nie! Wasbakke en lugversorgers is uitgebreek en deure en glasvensters oopgebreek. Dokumentasie wat agtergebly het van die maatskappy word gebruik vir vure wat in die huis gemaak word. Daar is ook hope Middelburg Observer uitgawes wat gebruik word vir vure.
Rekenaars is op die grond stukkend gegooi en alles wat moontlik van waarde daarin was, is uitgebreek. In een van die kamers word die plastiek van elektriese kabels (wat oral in die huis uitgeruk is) afgetrek en net so agtergelaat. Selfs die vensters se vensterknippe is afgehaal.
Hierdie twee geboue, albei op dieselfde perseel, loop al vanaf vroeg in Januarie onder diewe en vandale deur.
Volgens eienaar, Jaco Potgieter van NKP Consultants, het hy in Desember al getrek na Nelspruit en is die geboue aan eiendomsagente gegee om te verhuur.
Hulle het skaars uitgetrek, of die eerste inbraak het plaasgevind. Daarna het verskeie ander inbrake gevolg.
Mnr. Potgieter sê al die inbrake en vandalisme is by die polisie en die versekering aangemeld.
“Die alarmbesigheid kan nie meer help nie, want daar is nie krag nie en die wagte wat ons gekry het, hardloop weg uit vrees vir hul lewens as die inbrekers opdaag.
Die nuus dat die geboue so erg beskadig is, het hom erg omgekrap.
Alhoewel hy in die Kaapprovinsie tans is, het hy gesê dat hy Dinsdag van sy eie mense na die huis gaan stuur om te begin met herstelwerk. Hy het gevra dat indien daar ‘n maatskappy is wat die geboue (na herstelwerk) wil huur, hulle vir Magda du Toit by Seeff Eiendomme kan kontak.
• Eduard Nkambule het vlugtig in die hof verskyn op ‘n klagte van besit van vermoedelik gesteelde eiendom.
• Simon Mandla Shongwe se identiteitsboekie is in die huis opgetel.
