Op spoor van moordenaars?
Twee jaar nadat ’n bejaarde vrou wreed op Pullenshope vermoor is, loop haar moordenaars steeds vry rond. Haar eksman sê “die polisie is net so dood soos Julie!”
Me. Julie Cruse (72) is op 2 Junie 2012 in haar huis vermoor.
Die moordenaars het haar met onder andere ’n strykyster en broodrooster gebrand.
Haar hande en voete is agter haar rug met skoenveters vasgemaak en ’n bebloede serp was om haar nek gedraai.
Daar was ook ’n kombuislap in haar mond en keel afforseer. ’
n Lykskouing het later bepaal dat me. Cruse aan versmoring dood is (die kombuislap in haar mond en keel).
Toe haar lyk in haar slaapkamer gevind is deur haar huishulp, me. Maria Magola, het sy nog half gestut teen haar bed gesit.
Haar valstande het eenkant op die grond gelê. Die strykyster waarmee sy gebrand is, het langs haar gelê.
Haar eksman, mnr. Ronnie Cruse, is al moedeloos. Hy het hom in Februarie 2013 tot die Observer gewend omdat hy gevoel het “daar word net niks aan die saak gedoen nie.”
Sy klagte is verwys na die destydse groepbevelvoerder, brig. Andre Smit (hy het intussen met pensioen gegaan) wat opdrag gegee het dat “’n senior speuroffisier dadelik na die dossier sal kyk.”
Kort na hierdie belofte het mnr. Cruse opgewonde laat weet dat die polisie by hom was en dat hy al die inligting wat hy tot sy beskikking gehad het, aan hulle oorhandig het.
Teen Mei verlede jaar was daar nog geen positiewe terugvoer nie en mnr. Cruse se kinders (sy seun is die bekende gholfspeler, André Cruse) wou ’n privaatspeurder aanstel om die saak te ondersoek. Mnr. Cruse het egter gevoel “dat die polisie net hul werk moet doen.”
In Oktober 2013 is daar op mnr. Cruse se navraag vir hom gesê dat ’n verdagte, wat ’n dag voor die moord in die omgewing van me. Cruse se huis gesien is, in Lydenburg gearresteer is, maar dat hy uit die hospitaal op Lydenburg ontsnap het.
Mnr. Cruse sê sy kinders was die afgelope naweek by hom, waartydens hulle weer die hartseer gebeure van haar moord twee jaar gelede bespreek het.
“My kinders het wéér vele vrae gevra en ek vra ook nou. Was Julie nie belangrik genoeg nie?”
• Die bevelvoerder van die Georganiseerde Misdaadeenheid, kol. Faan Steenkamp, het gesê dat die dossier deur hul kantoor ondersoek word en dat daar nuwe inligting is wat hulle besig is om op te volg. Hy het onderneem om kontak met die familie te maak en hulle op hoogte te bring van die ondersoek.
• Op 3 April vanjaar is mnr. en me. Edward (76) en Ina de Villiers (73) op die plaas Blaauwkop (Ermelo omgewing) deur drie rowers oorval in hul huis.
Hulle is op bykans dieselfde manier as me. Cruse gemartel.
Die egpaar is vasgebind en kookwater is oor hulle uitgegooi. Me. De Villiers is na ’n buitekamer geneem waar hulle haar met ’n warm strykyster op die bors gebrand het (soos in me. Cruse se geval).
Vier dae voor die aanval op die egpaar, is mnr. JR Bührmann (77) dood in sy plaashuis op die plaas De Emigratie (ook in die Ermelo omgewing), gevind.
Daar is aanvanklik aan die media gesê dat daar plastiek oor sy gesig getrek was. Later is onder andere gesê dat hy met ’n stomp voorwerp oor die kop geslaan is en toegedraai in ’n mat gevind is.
