#Pascal Pienaar
Die oulike nuwe studentverpleegster in die reeks Binnelanders, "Karli", is niemand anders nie as oud-Middelburger Pascal Pienaar (24) wat haar laerskooldae by die Koedoekoppies (Laerskool Middelburg) deurgebring het.
Pascal was verlede jaar vir 11 weke ‘n gasspeler in dié bekende televisiereeks.
Drie maande later het hulle vir haar ‘n permanente rol aangebied en sy het reeds diep in almal se harte gekruip as ‘n parmantige verpleegstertjie.
Volgens Pascal ervaar sy die rol as pret en ook ‘n uitdaging. “Dit is ‘n uitdaging om ‘n karakter te speel wat misunderstood is, te gewoond is aan geld en dat alles boonop nog haar hele lewe lank vir haar gedoen word. Haar loskophouding is nie ‘n maklike een om aan gewoond te raak nie.”
Sy vertel dat buiten die karakter, is die tegniese aspekte van verfilming vir televisie ook vir haar ‘n uitdaging (meeste films word met een kamera geskiet) terwyl die reeks met multi-cams geskiet word (daar is meer as net een kamera betrokke op dieselfde tydstip). Pascal sê sy was meer gewoond gewees aan teater en die pas waarmee daar gewerk word op ‘n daaglikse drama is ook baie anders as die maande se repitisies voor ‘n teateropvoering.
Pascal verduidelik dat met televisie daar ‘n hele stel nuwe reëls en regulasies is wat tel, en wat ook die hele tyd in gedagte gehou moet word. Klein goedjies raak meer belangrik op die ateljee se vloer, soos byvoorbeeld beweging, waar ‘n mens moet stop vir ‘n spesifieke kamera (of kameras) se skoot of skote. ‘n Mens moet ook gewoond raak aan die raam van ‘n skoot of skote, die diepte, en die beligting van die stel.
Sy is baie trots op die span by Stark Studios en sê hulle werk almal baie hard en is baie passievol oor dit wat hulle doen, en daarom lewer hulle nie net ‘n mooi produk nie, maar ook ‘n produk van hoogstaande produksiewaarde. “Niks gebeur sommer net vanself nie!”
Televisiewerk is “nie net ‘n lewe van glamour en shine nie. Dit is veeleisend en neem baie voorbereiding, tyd en moeite in beslag.”
Sy kom soms laataand eers tuis en moet dan nog woorde voorberei vir die volgende dag.
“Vir my is dit ‘n uitdaging, want ek is nog nie heeltemal gemaklik met die groot volume werk wat gememoriseer moet word vir die volgende dag se skietskedule nie, maar ek voel darem asof ek heelwat beter vaar as aan die begin van my kontrak.
Nog ‘n uitdaging van Karli se karakter, is omdat sy nie net ‘n “dom blondine” is nie, maar sy het ook “‘n ander manier van dink aan haar, waaraan ek nie altyd vatplek kry nie. Sy redeneer anders oor die lewe as ek, en hanteer situasies op ‘n heeltemal ander manier as ek.”
Pascal sê die karakter, Karli, het grootgeword in ‘n huis waar haar ouers geskei is, en daarom het sy ook in haar wordingsjare met soveel kattekwaad en muisneste weggekom. Sy is deur haar omstandighede gesterk in haar kwaad/goedheid/manier van dinge doen.
Vanjaar is die eerste keer wat die prinsessie in die diepkant gegooi is nadat haar pa haar afgesny het van die geldkraantjie, en dit is vir haar moeilik aan die begin gewees om haar eie potjie te moet krap.
Die harde realiteit vir die karakter is dat die “grootmenswêreld” heeltemal anders daarna uitsien as wat sy in haar kop gehad het, en dit neem haar ‘n bietjie langer as die res van haar tydgenote om by hierdie manier van leef aan te pas.
“Die ding wat ek baie van Karli hou is dat sy inherent eintlik ‘n fun, ligte tipe meisie is wat nog soos ‘n kind droom en dit is vir my baie mooi.”
Pascal het van kindsbeen af geweet dat sy ‘n aktrise wil wees, “maar vandat my bakkies op die televisie verskyn het, het ek ‘n nuwe respek vir die bedryf gekry. Die werklikheid is dat dit baie keer hard en ongenaakbaar is, en ek leer nog dat die donker tye ‘n mens eintlik vorm.”
Hulle begin omstreeks 07:00 te skiet en maak teen 19:00 eers klaar. Maandag tot Vrydag!
“My plan is om teen 2017 in ‘n rolprent te speel, maar intussen wil ek ook weer begin om eenvrouvertonings (in kabaret) te doen. Ek leer en groei nog baie as die jong verpleegstertjie Karli du Preez, en hoop om al hierdie lesse in my toekomsdrome in te bou en te gebruik.”
Sy noem Binnelanders “‘n wonderlike sepie”.
Haar advies vir dramastudente is: “Doen dit vir die liefde van die spel, en nie omdat jy famous wil wees of omdat dit vir jou glamorous lyk nie.”
• Pascal het in 2012 ‘n eenvrou-kabaretvertoning gedoen met die naam, “T’Art”, ‘n sattire oor die verloop van die politiek in Suid-Afrika.
• Sy hou baie daarvan om rond te kerjakker en as haar vol program dit toelaat, reis sy graag saam met haar familie die wêreld vol. Een van haar gunsteling lande is Italië.
• Pascal is die dogter van die bekende egpaar, Eugene en Jeanne Pienaar, wat vir jare in die omgewing geboer het.