Brandhoender by Magaliesberg
Twee brande is kort nadat hulle ontstaan het deur die brandweer onder beheer gebring, maar nie voor die huiseienaars effens skade gely het nie.
Vrydagmiddag 20 Junie 2014 het ‘n Wendy-huisie skielik in ligte laaie opgegaan in Elandstraat.
Die brandweer was teen druktyd nog besig om die omstandighede rondom die skielike brand te ondersoek, omdat daar niemand by die huis was ten tye van die brand nie.
Die wendy in die linkerkantste hoek van die erf het tot die grond toe afgebrand, en talle implemente soos ‘n kragopwekker en plofbare gasbottels, kon in die puin geïdentifiseer word.

Hoewel die brand vinnig geblus is, het die smeulende puinhoop polisie en brandweermanne op die toneel bekommer, en is omstanders beveel om van die toneel af weg te staan vir hul eie veiligheid.
Die brand het kort na 14:00 ontstaan.
• Sondag omstreeks 17:00 was mnr. Johan Loggenberg druk besig om sy spesialiteitsdis, ‘n hoender op die kole onder sy lapa, vir sy gesin voor te berei.
“Alles was klopdisselboom,” sê hy oor die hoender wat minstens twee ure op die kole moet kekkel en kraai.
“Ek het die hoender afgehaal en by die huis ingeneem sodat ons kon opskep toe my seuntjie, Rowen, my roep,” sê mnr. Loggenberg.
Hy het dadelik die tuinslang in die voortuin gaan haal toe hy rook by sy grasdak sien uitborrel.
Hy het eers die grasdak van buite bespuit voordat hy na binne is waar hy vermoed, ‘n opvlieg kooltjie moontlik by die dekgras ingewaai is.
Na ‘n gespook moes hy egter die brandweer ontbied omdat die gras aanhou smeul het.
Dekgras word so gepak dat dit waterdig is en deur die brandweer oopgekrap moet word om die smeulery te stuit.
“Die brandweer was binne minute by sy huis in Magaliesberg waar minimale skade eindelaaste aangerig is weens mnr. Loggenberg se vinnige optrede.
‘n Brandweerman het kort nadat die brandslange ophou spuit het met die gesin geskerts en gevra “nou waar’s daai hoendertjie nou?”.
•Mnr. Loggenberg bedank die brandweer vir hul hulp en humor omdat hy weet hulle tans besig is om teen veldbrande te spook.
