Wittebroodsdrome aan skerwe
'n Paartjie wat vroeg in Meimaand na Thailand sou vlieg vir hul wittebrood se drome van 'n idilliese vakansie is aan skerwe.
Die reisagent van Travel Exec het nooit die bespreking gedoen nie en tot op hede ook nie hul geld terugbetaal nie.
Mnr. en me. Ivan en Celeste Gray is op 27 April getroud en hulle was kinderlik opgewonde, omdat hulle sowat twee weke later na Phuket in Thailand sou vlieg.
Hulle het geglo dat me. Chantel Cloete (wat ‘n reisagentskap op Middelburg bedryf het) alles gereël het.
“Ek het al in Januarie begin reëlings tref met haar. Ek moes inderhaas ‘n kredietkaart kry, want die R30 000 moes sou gou as moontlik inbetaal word, voordat sy vir ons sou bespreek. Die R17 000 om ons geld oor te sit in die Baht geldeenheid is ook betaal.”
Die paartjie bly in Kinross en het ‘n paar dae voor hul vertrek me. Cloete gebel net om seker te maak alles is in orde.
Mnr. Gray sê me. Cloete het hom meegedeel dat die weer in Thailand sleg is en dat die vlug moontlik gekanselleer gaan word.
Toe mnr. Gray die Saterdagoggend 06:00 sy foon aansit, het hy ‘n boodskap gekry dat die vlug wel gekanselleer is.

Die egpaar het dadelik die Thai Airways asook die SA Lugdiens gebel om te hoor tot wanneer die vlugte uitgestel is.
Tot hul verbasing was géén vlugte weens slegte weer gekanselleer nie. Boonop was daar geen bespreking vir ‘n Gray egpaar nie.
Mnr. Gray het dadelik me. Cloete gekontak. Sy het verskoning gemaak dat sy nie die vlug bespreek het nie en onderneem om die geld terug te betaal teen die Maandag.
Die geld was egter teen die Dinsdag nog nie inbetaal nie en mnr. Gray het ‘n klagte van diefstal by die Kinross polisiestasie aanhangig gaan maak.
• Mnr. Gray sê hy het juis van me. Cloete se dienste gebruik gemaak, omdat sy aanbeveel is deur lede van die Kriel Rugbyklub vir wie sy besprekings reël vir hul oorsese toere.
• Tot op hede het die egpaar ondanks verskeie beloftes, ook aan die Observer, nog nie hul geld ontvang nie.
• Me. Cloete is op 13 Mei gearresteer en het op 27 Mei weer vlugtig in die hof op Evander verskyn na aanleiding van die klagtes wat mnr. Gray aanhangig gemaak het.
Tydens haar verskyning op 26 Junie is die saak na hierdie week uitgestel om me. Cloete geleentheid te gee om ‘n regsverteenwoordiger aan te stel.
Bo en behalwe diefstalklagtes, het hulle ook ‘n siviele aksie begin.
Die egpaar het aan me. Cloete ‘n ultimatum gestel dat sy voor 30 Junie die geld aan hulle moet oorbetaal, maar teen Woensdag hierdie week was die geld nog nie betaal nie.
Me. Cloete het kort ná die gebeure in Meimand snikkend verduidelik “dat hul gesin baie swaar gekry het” en dat sy mnr. Gray se geld gebruik het “ter wille van oorlewing.” Sy het vertel dat sy die geld gebruik het vir kos en om huur te betaal.
Die plan was om sy geld terug te betaal, aangesien ‘n ander kliënt ‘n groot bespreking sou maak wat die kostes sou dek. Dié bespreking het egter nooit gebeur nie.
Me. Cloete het by verskeie geleenthede, mondelings en per Watsapp, verskoning gemaak by die Gray egpaar en hulle ook beloof om die geld terug te betaal, hetsy deur haar kar te verkoop of by iemand (sy het gesê dit is ‘n vriend van haar ma) die geld te leen.
Tydens ‘n vorige navraag oor die gebeure, het me. Cloete aan die koerant gesê dat die saak “sub judice is” en dat sy “nie kommentaar kan lewer nie.”
Kort daarna het sy ‘n boodskap gestuur, waarin sy sê sy verstaan nie hoekom die egpaar dit in die koerant wil sit nie. “Dit gaan niks verander aan die situasie nie. Ek voel vir die mense na aan my wat ook geraak word met die berig. Hulle verdien dit nie.”
• Me. Cloete het Woensdag gesê dat die persoon wat haar sou help, nog nie die geld inbetaal het nie. By navraag of sy ‘n geregistreerde reisagent is, het sy geantwoord dat sy “‘n onafhanklike reisagent is. Ek is heeltemal op my eie.”
• Lees elders in die koerant oor soortgelyke gebeure waar me. Deneys Collins en haar dogter, Anelda (‘n prokureur van Pretoria), bykans R80 000 verloor het.
