Esmarie se “laaste” verjaardagpartytjie
Esmarie se wenslys voor dit dalk einde van die aardsepad is...
“Een laaste groot kuier!” So noem Esmarie Fourie (35) haar “laaste” verjaardagpartytjie… Laaste, as daar nie ’n wonderwerk gebeur nie…Terwyl vroue van haar ouderdom met gesinne begin, veg Esmarie elke dag teen die Groot K; Kanker. Sy is op 29-jarige ouderdom met borskanker gediagnoseer, wat later na haar breinvlies versprei het.
Sy het in Maart, toe dokters haar ’n paar maande gegee het om te lewe gevra “hoe neem ek afskeid en pas alles in wat ek nog wil doen, voor ek gaan? Wat van my familie en hondekinders? Hoe sê mens goodbye… Ek weet dit is ongelooflik moeilik vir familie en vriende om afskeid te neem, maar hulle het gelukkig net een om voor bye te sê. Ek moet afskeid van alles en almal om my. Hoe doen mens dit?”
Nadat sy in die hospitaal opgeneem is om simptome van die kanker en inflamasie te behandel, het sy haar gevoelens in ’n sosiale media boodskap uitgedruk. “Vir ’n oomblik het alles stil gestaan terwyl die trane oor my wange rol. Dit is te veel om in te neem. Om elke dag te veg om te survive is al wat ek ken. Van die ouderdom 29 is ek in en uit hospitale, operasies, radiasie, konstante chroniese chemo. Die moeilikste ses jaar van my lewe met soveel ander dinge wat ook intussen gebeur het. Een hou na die ander.

“Toe ek alles verloor, het ek net begin lag. Eers my verblyf, besigheid, kar, familielede afgestaan aan die dood… Dit was ’n tawwe paar jaar. Waar mense van my ouderdom met gesinne begin, het ek ’n familie in die hospitaal opgebou. My voete ken die saal se vloere beter as van die personeel wat kom en gaan.”
Sy sê hoop en vertroue dra haar.
“Om nie te gaan lê nie, ten spyte van wat op ’n mens se pad kom. As jy na jou hartklop kyk op ’n monitor, gaan dit altyd op en af. Die lewe is dieselfde, daar is goeie en slegte tye. Ons het daai ups and downs nodig om te oorleef. Dit dryf ons om aan te hou en dis wat ek ook nou gaan doen… Ek gaan aanhou, met die ups and downs en ek gaan weier dat ’n paar maande om te leef soos ’n tydbom gaan wees wat wag om af te gaan. Die lewe is te lekker en ek het nog te veel wat ek wil beleef. Ek sit nou met ’n wenslys. Gaan kyk wat ek alles kan beleef voor ek my voete afstof van die Aardsepad.”
Op daardie wenslys was ’n groot verjaardagpartytjie.· “Ek beplan nou al my verjaardag van April af vir die 7de Mei. Elke keer as ek dit wil hou dan word ek of opgeneem in die hospitaal of ek is besig om aan te sterk. Die 20ste Junie kon daardie droom uiteindelik waar word.” Sy sê dit was ongelooflik spesiaal om so baie geliefdes om haar te hê by die Milk on the Beach restaurant op Hermanus.
“Dit het dit vreemd gevoel om my laaste partytjie te reël. Ek weet dat net God kan bepaal wanneer dit mens se laaste is, maar realiteit is ook ’n werklikheid. Ongelukkig is my tyd van so aard dat ek nie meer one-on-one kuiers kan doen nie. Hierdie aand was vir my spesiaal. Effe van ’n bittersweet celebration. Soos tyd verby gaan en almal hulle eie rigting inslaan, weet mens nie wanneer jy weer tyd gaan hê om iemand te sien nie. Party vriende sien mens eenkeer ’n week, maand of jaar en vir my wat dag tot dag leef, is dit net te ver in die toekoms. Dit was dalk die laaste kuier saam met sommige van hulle.”
*Esmarie woon op Hermanus en is die kleindogter van wyle ds Connie en Esmé Solms. Ds Solms was die polisie kapelaan vir Oos-Transvaal en het in ’n motorongeluk op die Loskopdampad gesterf. Me. Solms was ’n onderwyseres by Hoërskool Middelburg wat aan kanker oorlede is. Esmarie se ma, Lucia (Solms) Theron, het daar skoolgegaan.
