Aluglass werkswinkel brand
Honderde duisende rande se skade is aangerig na 'n brand Saterdagmiddag in 'n werkswinkel by Aluglass in SADCstraat.
Personeel van Aquatronics het dadelik gehardloop om hulp te verleen, aangesien Aluglass nie oop is op Saterdae nie en hulle nie geweet het van die brand nie.
Me. Maxine Trollip het kort na die brand gemeld dat die krag kort-kort uitgeskop het, waarna daar ‘n kragoplewing was. Kort daarna het hulle ‘n geweldige slag gehoor en vlamme en rook sien uitborrel by hul buurbesigheid se werkswinkel.
Mnr. Jeremy Montgomery (Algemene Bestuurder, Aluglass) sê daar bly van hul personeel in een van die kamers op die perseel en hulle het deure oopgesluit sodat personeel van Aquatronics kon begin om die vlamme te blus.
Aquatronics personeel het op Zello 911 Middelburg ook vir hulp geroep en hulle het blitsig opgedaag. Die brandweer was ook binne minute op die toneel.
Omdat daar voertuie in die werkswinkel geparkeer was, wou me. Trollip en haar span dit skuif, maar daar was nie sleutels beskikaar nie.
Hulle het van die bakkies se vensters gebreek en die voertuie op dié manier by die werkswinkel uitgestoot.
Weens die geweldige hitte van die vlamme, kon hulle nie die trok geskuif kry nie en dit het erge brandskade opgedoen.
Mnr. Montgomery was vol lof vir die optrede van me. Trollip en haar personeel, asook die brandweer- en Zello-lede, asook Aluglass personeel, me. Marietjie Gagiano en mnr. Neil de Beer.
Hy glo die brand sou versprei het na aangrensende geboue as almal nie so vinnig opgetree het nie.
• Buiten die trok, skat mnr. Montgomery die skade van die inhoud van die werkswinkel op meer as ‘n R1 miljoen. “Daar was sowat 20 klankdigte deure wat ons vir Sasol gebou het, wat vernietig is.” Die struktuur van die gebou het ook erge skade opgedoen, maar hy het nie ‘n idee gehad wat die waarde daarvan is nie.
• Alhoewel hul werkswinkel erge skade gely het, het Aluglass se hoofgebou, wat ‘n entjie van die werkswinkel af geleë is, geen skade opgedoen nie. Hulle was Maandag, soos gewoonlik, oop vir sake.
• Mnr. Montgomery sê dit lyk of die brand veroorsaak is deur ‘n elektriese kortsluiting.
Lees meer relevante stories hier:
Video: Fire breaks out in flat
Update: Fire in Bloedrivier Street

