News

Bedrieërs soek jou persoonlike inligting

Wees versigtig om jou persoonlike besonderhede oor die telefoon uit te lap, selfs al dreig 'die polisie' jou met arrestasie.

‘n Inwoner het homself koud geskrik toe hy Saterdagmiddag ‘n SMS kry dat daar ‘n saak teen hom geopen is met die kontak besonderhede van die “ondersoekbeampte”.

Die man, wat gevra het om anoniem te bly, sê dat hy en sy vrou dadelik die nommer gebel het om uit te vind wat aangaan.

“Mens probeer heeltyd dink waar jy dalk iets gedoen het wat jou in die sop kon laat beland. Al waaraan ek kon dink is dat daar dalk uitstaande boetekaartjies op my naam is waarvan ek vergeet het.”

‘n Konstabel Zwane het die man se identiteitsnommer versoek sodat hy op die sisteem kon kyk of daar ‘n saak teen hom geopen is. Hy het toe bevestig dat daar ‘n saak geregistreer is en gesê dit is vir bedrog wat verband hou met ‘n inbetaling in sy bankrekening. Hy het gesê dat hulle reeds in die proses is om ‘n lasbrief uit te reik sodat die beskuldigde gearresteer kan word.

Die man het dadelik enige planne om by vriende te gaan braai opsy geskuif en na sy bankstate op die internet gaan kyk, om vas te stel of daar enige snaakse aktiwiteit was.

“Met die groot skrik, en die vrees dat jy op ‘n Saterdag gearresteer kan word en dan die hele naweek in die tronk moet spandeer, maak dat jy nie helder dink nie.”

Toe dinge bietjie rustiger word het hy eers lont geruik. Daar is aan konstabel Zwane gevra waar die saak geopen is, waarop hy geantwoord het dat dit in Rustenburg geregistreer is. Hy het die foon doodgedruk toe hy om ‘n saaknommer gevra is.

Tydens ‘n besoek aan sy bank Maandag het hulle hom verseker dat niemand net met sy identiteitsnommer insae in sy bankrekening kan kry nie. Hulle kan glo wel ‘n debietorder instel.

Kaptein Zwane, Middelburg polisie segsvrou, sê dat daar wel boodskappe aan die klaers wat sake oopmaak gestuur word, maar nie aan die beskuldigdes in die saak nie. Dit is nie ongewoon vir ‘n ondersoekbeampte om ‘n beskuldigde telefonies te kontak nie, maar hy sal nooit vir jou identiteitsnommer vra nie.

Daar is vasgestel dat ‘n soortgelyke bedrogspul al sedert 2012 die rondte doen. Een vrou het op die internet gekla dat sy in ‘n toestand is nadat sy so ‘n SMS ontvang het en met arrestasie gedreig word.

Dit is onduidelik wat die swendelaars met jou identiteitsnommer maak.

•Talle inwoners het die afgelope tyd “groot geld gewen” in ‘n Omo kompetisie wat ook net ‘n bedrogspul was.

Veral bejaardes het opgewonde vertel dat hulle R200 000 ryker is en dat daar ‘n tjek by hulle afgelewer gaan word. Wanneer die bedrieërs later begin vra vir inbetalings het hulle agtergekom dit is maar net nog ‘n slinkse skema.

•Nog mense het vertel dat hulle deur “FNB se bedrogeenheid” genader is om persoonlike inligting te bekom.

Lees nog verwante stories hier:

Thieves live underground

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button