Video: Pastoor ‘neem sy kruis op’
Pastoor Harry Knoesen het die kruis opgeneem in 'n persoonlike stryd en vir vyf ure 'n reuse, skawende kruis tussen eMalahleni en Middelburg gesleep.
Elke treë het hy voortgebeur met die staalkruis op sy skouers. Sowat vyf kilometer voor Middelburg het die joernalis hom raakgeloop. Hy was te uitasem om te praat.
Al wat hy kon sê was: “As ons aan Jesus se kruis moes dink, was hy nie lig nie.”
Maar hoekom hierdie kruispad?
In ‘n lang brief vertel hy dat hy “‘n soldaat van die kruis is. Mense wat my goed ken, weet dat ek nie maklik sê: ‘So sê die Here’ nie, maar twee Saterdae gelede is ek oortuig dat my Skepper met my gepraat het. Die boodskap was ‘n waarskuwing…”
Hy brei uit oor hoe die Here vir hom gesê het dat dinge “erger gaan word in ons land en dat die dwelmprobleem totaal buite beheer gaan word.” Die boodskap is egter “net as die goeie mense saamstaan, kan hulle dit keer. God gebruik die regverdiges om ons land te red. Dit is so duidelik vir my dat God ons Skepper glad nie beïndruk is met die toestand van die kerk in ons land is nie.”
Terwyl hy die swaar kruis met bewende bene verder sleep, dink ‘n mens onwillekeurig aan die teks in Lukas 14:27. “Iemand wat nie sy eie kruis dra en agter My aankom nie, kan nie My dissipel wees nie.”
• Dr. Knoesen is ‘n leraar van die Agapé Gesinskerk.
• ‘n Video van dr. Knoesen waar hy die kruis dra op die pad, kan gesien word op www.mobserver.co.za.
