News

Video: Kruisrivier groet laaste renoster

Nadat wildstropers die afgelope jaar vier van hul renosters afgemaai het, het die eienaars van Kruisrivier Natuurreservaat besluit om hul laaste renoster te verkoop.

Dit was met gemengde gevoelens dat hulle Vrydag die dier verdoof en gehelp laai het.

“Ons moes dit net doen om die dier se veiligheid te verseker. Dit was ook nie meer veilig vir ons om alleen op die plaas rond te loop nie, want jy weet nie wanneer wildstropers op jou gaan losbrand nie,” het mnr. Dawie Roberts gesê.

Die stropers het in die laaste jaar vier renosters, waarvan twee dragtige koeie was, geskiet. “Elke twee jaar het ons die horings laat afsny, maar hulle kom nog steeds net vir daardie stukkie wat begin groei het!”

Kort nadat hulle die dier verdoof het, het hulle gesien dat daar ’n wond is deur sy skof, wat ’n aanduiding is dat die wildstropers hom ook probeer doodskiet het. Hy het egter weggekom en die wond het self herstel.

• Op 10 Maart vanjaar is ’n dragtige renosterkoei en haar twee jaar oue kalf afgemaai vir hul horings en sterte by oBhetyan-o-Africa. Die renosterbul is ook in die kop gekwes. Die dier is behandel en dieselfde week verwyder.

• Die bekende Erichsens het al in 2012 al die renosters op hul familie vakansie wildsplaas, Loodswaai (sowat 65km Noordoos van Pretoria), verkoop.

“Die kool was net nie meer die sous werd nie,” was beide mnre. Hennie en Kallie Erichsen se woorde hierdie week.

Hulle het vier permanente wagte gehad met drie Land Cruisers en twee kwadmotorfietse wat die area 24 uur per dag gepatrolleer het.

Die wildstropers het egter ses van die renonsters, waarvan vyf dragtige koeie, oor ’n tydperk van vyf jaar afgemaai.

“Van die diere het op ’n stadium selfs meervoudige wonde gehad soos die stropers met outomatiese masjiengewere op hulle losgebrand het en dit het ons ’n klomp geld gekos om hulle weer gesond te dokter.”

Mnr. Erichsen sê toe daar later ook op hul wagte geskiet is, het hulle besluit om al hul renosters te verkoop. Die vier wat hulle in die Middelburg omgewing gehad het, het hulle dieselfde tyd verkoop.

“Ons het net besluit, tot hiertoe en nie verder nie. Dit het net te duur geword om hulle op te pas. Ons wou net dat hulle lewendig wegkom.”

Hulle mis egter die diere op die plaas. “Dit is nie lekker nie. Ons soek hulle om elke hoek en draai, want almal het name gehad. ’n Mens gaan later net die renosters op prentjies sien, want in die museums waar die horings uitgestal is, is dit ook al geroof en gesteel!”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button