News

Roofhel by HTS

"Mens dink jy leef in 'n veilige kokon, maar die realiteit is, dis nêrens veilig nie," het mnr. Dolf Jonker, hoof van HTS Middelburg Woensdag in sy kantoor gesê, waar hy Dinsdag deur twee gewapende mans oorval is.

Die skool het reeds begin om veiligheidsmaatreëls op te skerp na die gewapende roof wat veral die vroue in HTS se finansiële-kantore, op hol het.

Mnr. Jonker sluit elke dag die kantoor om 05:00 oop, om sy dag met Bybelstudie te begin.

Hy vergader hierna met die terreinopsigters en het ‘n staande oopdeurbeleid met personeel, tussen 06:30 en 06:45, om skoolkwessies sonder steurnis met hom te kom bespreek.

Omdat die personeel gul van die geleentheid gebruik maak, het die voetvalle in die gang omstreeks 05:30, mnr. Jonker nie ontsenu nie.

“Dit was eintlik duidelik dat die persoon reguit na my kantoor op pad was, sonder om te aarsel by die string toe deure in die gang.”

Onder die indruk dat dit ‘n personeellid is, het hy aangegaan met sy werk.

Die volgende oomblik het ‘n man reg langs die boekrak teen sy lessenaar gestaan met ‘n wapen op hom gerig.

‘n Gewapende makker het volgende ingestap en om sy lessenaar beweeg sodat hy aan beide kante omsingel was met pistole.

Een van die mans het mnr. Jonker hierna met die arm om die nek, en pistool teen die kop, beveel om saam te werk.

“Hulle was redelik aggressief en het aanhoudend gevra vir die kluissleutels, wat as reël nie in my besit is nie,” sê mnr. Jonker.

Die rowers het swaar aan dié ontkenning gesluk en mnr. Jonker beveel om op sy maag, met sy hande bo sy kop, op die vloer voor sy lessenaar te gaan lê.

Terwyl mnr. Jonker op die grond vasgepen was met ‘n wapen teen sy kop, het die ander rower sy laaie deursoek.

“Ek het op dié stadium vir hulle gesê om my skootrekenaar, selfoon en bakkiesleutels te vat, maar hulle wou die kluissleutels hê,” sê mnr. Jonker.

Hy is gereeld in die ribbes geskop in ‘n poging om hom te laat knak, en bieg waar die kluissleutels versteek is.

Die rower het op ‘n reuse bos sleutels in mnr. Jonker se laai afgekom en die kantoor verlaat.

Hy kon daarin slaag om die kantoor waar die kluis is oop te sluit, maar het hom vasgeloop teen die massiewe staaldeur waarvoor daar nié ‘n sleutel aan die bos was nie.

Mnr. Jonker sê sy moed het op dié stadium in sy skoene gesak en hy’t besef dat die rower by hom bloot een skoot na hom toe sou moes vuur om sy lewe te neem.

“Veg of vlug neem oor, maar wat doen jy as jy op die grond is met jou hande om jou kop geklem, en ‘n gewapende rower op jou rug, geweer teen die kop?”.

Mnr. Jonker het toe met die rowers probeer onderhandel, en gesê dat hy hulle wil waarsku dat sy terreinopsigters oor enkele minute sou opdaag vir ‘n vergadering.

Terselfdertyd was daar ook reeds beweging onder koshuisleerlinge op die terrein, en mnr. Jonker vermoed dat die boewe se mannemoed hulle begewe het.

Hy het gehoor hoe sy kantoordeur skielik sluit, en kon duidelik hoor hoe die rowers wegjaag, reg verby mnr. Blacky Swart, een van twee terreinopsigters wat opgedaag het vir die daaglikse vergadering.

Mnr. Jonker het 10111 sonder sukses gebel, daarna die kombuis, en toe sy vrou en onderwysers wat, om die beurt ook die polisie ontbied het.

“Die manne in blou was binne twee minute hier, alle lof kom hulle toe,” sê mnr. Jonker.

Hy is intussen deur mnr. Swart uit sy kantoor bevry waarna die polisie op die skool toegesak het.

Mnr. Swart het minute na sy noue ontkoming gesê dat hy weet die roof in ‘n tragedie kon ontaard as hy twee minute vroeër opgedaag, en die rowers in die kantoor vasgekeer het.

Mnr. Jonker sê dat daar ‘n onrustigheid by die skool heers na die voorval en dat die toegangshekke reeds sedert Dinsdagaand gemonitor word.

Die skool ontvang deesdae alle betalings elektronies en ouers word aangemoedig om alle gelde so te betaal om kontant op die terrein uit te skakel.

“Die rowers sou dalk met R400 wegkom, daar was beslis nié geld in die kluis nie.”

‘n Kaartmasjien sal ook nou ingespan word om rowers te ontmoedig.

“Dit is jammer dat die skool nou uitgawes sal moet aangaan om ‘n veiliger hawe vir almal te verseker,” sê mnr. Jonker wat bylas dat die rowers eindelaaste net met sy iPad, horlosie en selfoon gevlug het.

“Genadiglik is die bos sleutels deur die rowers in die tuin gegooi, ons is hierdeur gespaar om honderde deurslotte reg deur die skool te vervang.”

Lees meer verwante stories hier:

Ma sit rower ore aan

Video: Trane loop toe rowers toeslaan

Rowers wou vyfjarige skiet

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Gerhard Rheeder

I have been a journalist for two decades, with numerous awards to my credit, both in photography and writing. A brief stint as researcher in the opposition offices of the Mpumalanga Provincial Legislature, honed my skills as specialist local government reporter, covering crime and courts.
Back to top button