Geskenk eis jong lewe
'n Jong motorfietsryer is Vrydagaand in 'n ongeluk in Beyers Naudéstraat dood.
Facebookboodskappe bly instroom sedert dié ongeluk waarin Armand Dicks (21) op sy CBR 1 000cc motorfiets gesterf het. Hy het die motorfiets verlede jaar op sy mondigwordingspartytjie by sy pa, Herman, gekry.
Die ongeluk het omstreeks 23:24 in Beyers Naudéstraat plaasgevind. Na wat verneem word het Armand en die voertuig wat voor hom gery het, van die dorp se rigting af gekom.
Die bestuurder van die voertuig het later glo gesê dat hy besef het dat hy verkeerd gery het en regs by ‘n erf wou indraai om terug te ry van waar hy gekom het. Terwyl hy besig was om te draai, het Armand se motorfiets die voertuig op die deur getref.
Armand is van die motorfiets afgeslinger en het op die toneel gesterf.
Familie en vriende het Armand beskryf as “die vriendelikste mens op aarde. Hy kon nooit vir iemand kwaad bly nie. Die wêreld het vir seker ‘n ligstraal verloor.”
• Sy vriendin, Daniell (Nellaq) van Niekerk het op die toneel en later ook op Facebook gesê dat sy en Armand Sondag sewe maande saam sou wees. Sy begin eersdaags met haar rekordeksamen.

• Teen druktyd was daar nog geen begrafnisreëlings getref nie.
• Verskeie motorfietsryers het in die afgelope drie jaar al in motorfietsongelukke gesterf en in die laaste paar maande is etlike motorfietsryers ernstig beseer in ongelukke in die dorp.

