News

Krokodil trek bees die water in

In die diep poele van die Olifantsrivier, net onder die Loskopdamwal, bly 'n tamaaie krokodil met 'n voorliefde vir viervoetige troeteldiere.

Toe ‘n Jack Russel verlede week by een van die huise wegraak, het die eienaars die ergste gevrees. Helenca Verwey sê dat een van hul werknemers laat weet het hulle vermoed die hondjie was die krokodil se nuutste slagoffer.

Die hondjie het egter weer sy verskyning gemaak en die werker het verheug laat weet: “I’ve found him! He’s alive!”

Mense wat die reptiel al gesien het, meen sy is sowat vier meter lank. Daar word bespiegel dat dit ‘n wyfie krokodil moet wees omdat sy so massief groot is.

Ferdie Kotze, eienaar van Mossienes Gastehuis, sê dat hy gehoor het dat die krokodil 80 jaar oud is.

Menige hengelaar het homself al boeglam geskrik, as die dier skielik haar verskyning maak. Maar op hierdie stadium lyk dit asof krokkie se kind honde bo mense verkies.

“Sy is breër as ons bootjie. Mens skrik jou dood as sy verby jou swem. Maar ek dink sy is eerder besig om mense met haar groot lyf te intimideer as wat sy hulle wil vang,” sê mnr. Kotze.

Die opportunistiese krokodil het wel al hengelaars se hounette met visse en al gegryp.

Jannie Coetzee, van die Mpumalanga Parkeraad, sê dat ‘n reptiel so groot groei soos wat sy dieet hom toelaat. Hulle hou ook nooit op groei nie. Hy sê dat die krokodil se grootte nie noodwendig aan sy ouderdom gekoppel kan word nie.

Plaaslike inwoners vertel dat vele hond al op die krokodil se spyskaart beland het. Die Verweys het met hul intrek vier hondjies saam gevat wat almal onverklaarbaar verdwyn het. “Tannie Martie van die slaghuis se boerboel is ook onlangs gevang.”

Mnr. Kotze sê dat hy met sy eie oë gesien het hoe die krokodil ‘n bees die water in trek.

Volgens mnr. Coetzee is daar bittermin natuurlike rivieroewer oor tussen die Loskopdamwal en Arabiedam naby Marble Hall.

Hulle het natuurlike habitat nodig om te broei en dit is die rede hoekom die reuse krokodil haar intrek voor Mossienes gekry het.

Hy sê ook dat die krokodil kan bydra tot die weghou van kriminele elemente omdat niemand die eiendomme langs die rivier van die waterkant af sal benader nie, uit vrees dat hulle dalk krokodilkos kan word.

“Die krokodil het as babatjie hier groot geword. Sy is een van die min oorspronklike krokodille wat oorgebly het nadat daai klomp so gevrek het in die dam. Solank as wat ek hier bly, sal sy welkom wees by Mossienes,” sê mnr. Kotze.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Caxton Reporter

Caxton Local Media’s readership remains the highest in the communities that it serves. The group has 123 newspapers with representation in the majority of provinces across the country and over 60 community news websites.
Back to top button