Kriminele voëlvry in misdaadnes
Misdadigers het die middedorp in 'n greep van vrees en inwoners soos mnr. Pieter Dietrichsen, die mees onlangse slagoffer van die deurrukkersindikaat, sê hy "soek net 'n paar gewillige mans, om 'n verslane polisiemag se werk vir hulle te gaan doen".
Die misdaadprentjie in die middedorp het skrikwekkende afmetings aangeneem, met ‘n derde bordeel wat ook sy deure oopgeswaai het.
Die prositute doen lankal nie net meer sake in die nag nie, maar sit van vroegoggend wydsbeen voor dié sondaarshuise om kliënte te lok. Mnr. Dietrichsen sê, die ergste van alles is dat ‘n karwag hom gewaarsku het om sy deure te sluit, sekondes voor drie mans op hom toegesak het Donderdag, in SADCstraat.
Mnr. Dietrichsen, sy vrou Doreen, en hul twee kinders, het omstreeks 11:00 voor PQ’s gestop waarna Doreen en die kinders die klerewinkel in is.
Terwyl hy in die bakkie sit en wag het, het ‘n karwag na hom gekom en gesê “sluit jou deure,” wat mnr. Dietrichsen gedoen het.
“Dit was nie eens 30-sekondes na die waarskuwing nie, dat ‘n man skielik aan my deur kom ruk het.”
Hy kon daarin slaag om ‘n vuishou deur sy oop venster na die misdadiger te mik, maar dié het bloot hierna weggestap en toe aan sy bakkiekappie se deur gaan ruk.
Terwyl die man gepoog het om toegang tot die bakkiekap te kry, het twee van sy makkers aan die passasierskant se deure van die bakkie begin pluk.
“Ek kon nie dadelik uitklim nie, want die bakkie het ‘n sentrale sluitsisteem wat hulle beslis toegang sou bied, sou ek oopsluit om uit te klim,” sê mnr. Dietrichsen.
Toe die misdadigers besef hulle gaan nie regkom nie, het hulle weggestap, wat mnr. Dietrichsen die kans gegun het om uit te klim, maar die mans het gevlug.
Die karwag het hierna aan hom genoem dat hy die mans wat hom geteiken het, ken en ook ‘n paar ander mans aan hom uitgewys as “spotters”.
Sakemanne in Walter Sisulustraat het hul personeel nou opdrag gegee om kliënte se motors dop te hou, en na inkopies saam uit te stap vir veiligheid.
“Dit help nie, hulle is so arrogant, as jy vir hulle fluit, dan trek hulle die vingers oor hul kele om jou te waarsku wat met jou sal gebeur,” het ‘n anonieme sakeman gesê.
Hy vrees natuurlik vir viktimisasie, soos al die besighede in die sentrale sakekern.
Die misdaadnes produseer net meer en meer misdadigers wat oënskynlik voëlvry te werk gaan.
Dieselfde misdadigers word oor en oor geïdentifiseer, en die sakeman sê hy het een maal opgemerk hoe ‘n polisieman ‘n gesteelde beursie by een van die misdadigers gevat, die kontant uitgehaal, en dit weer aan hom teruggegee het.
“Dit is lankal nie meer net opportunistiese misdade nie, dis terrorisme uit en uit, pertroljoggies, karwagte, besigheidseienaars en selfs die polisie, weet almal wie die kriminele is, maar hulle lag vir ons,” skud die sakeman sy kop.
Die Observer se Daleen Naude berig al die afgelope paar weke pal oor die volskaalse terrorisme, wat veral gemik word op besoekers wat in die hoofstrate stop vir inkopies oppad Loskop toe.
“Dis dié mense wat salig onbewus is van die oorlog wat om hulle woed,” sê die sakeman.
Die afgesaagde deuntjie, “hoekom die sake aanmeld, wat gaan die polisie tog doen?” is Maandag ook deur mnr. Dietrichsen gesing.
“Waar is die dae van polisie informante, en suksesvolle hinderlae op grond van die inligting, ek is seker polisiemanne in burgerlike drag sal ook maklike teikens wees, soos die res van ons,” sê mnr. Dietrichsen .
Die Middelburg Polisie kon nie voor druktyd op Observer vrae, rakende ‘n aksieplan vir die brandkolle, gereageer nie.

