Kabeldief ‘nes’ gekry
Kabeldiewe het sommer nes geskop naby die plek waar hulle kabels afgesny en probeer uittrek het.
Was dit nie vir die flinke optrede van lede van die Sektor vier Gemeenskapspolisiëringsgroep nie, sou Telkomkabels ter waarde van duisende rande Saterdagaand gesteel word.
Mnr. en me. Willem en Rachel Kies (lede van die GPF) het omstreeks 22:00 patrollie in die sektor vier area (Kanonkop/Dennesig en gedeelte van Middedorp) gery.
Die egpaar het van die dorp se kant af opgery in Walter Sisulustraat in die rigting van Kanonkop en Dennesig.
Terwyl hulle gery het, het me. Kies met haar soeklig weerskante van die pad geskyn.
Hulle was net verby die SAVF oppad na die brug toe, toe me. Kies beweging in die veld langs die pad opmerk en sien hoe iemand by ‘n mangat met kabels karring.
Hulle het ‘n U-draai gemaak om ondersoek in te stel, waarop die booswig alles net so laat staan en gevlug het.
Nog lede van die GPF is ontbied, waarop hulle gevind het dat die dief reeds die kabels gesny het en besig was om dit uit te trek.
Die omgewing is bespied, waarop die groep sowat 10m verder afgekom het op ‘n lêplek tussen riete waar komberse en bierbottels gelê het. Reg rondom die lêplek het hope isolasie gelê wat reeds van kabels afgetrek is.
• Op dieselfde tyd wat GPF-lede besig was by die kabeldiefstal, is ‘n Standard Bank kitsbank gevandaliseer by Faamid Motors (hoek van Cowen Ntuli en Walter Sisulustraat) en is ‘n matriekdogter deur haar pa aangerand.
Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!
