News

 Ou sekelstert maak weer draaie

Middelburg se berugte bobbejaan is weer by Roberts Landgoed gewaar nadat hy twee jaar lank uit die dorp se oog verdwyn het.

Die bobbejaan kom weer, want hy wou nie langer wag nie …

Middelburg se grootste swerwer is terug!

Die bobbejaan, wat vier jaar gelede vir die eerste keer deur Deon Cornelius van Ubhetyan-o-Africa en konst. Stomney Steenkamp van die veediefstaleenheid op die dorp gevang is, is gistermiddag by Roberts Landgoed opgemerk.Vier jaar gelede het dié bobbejaan inwoners in rep en roer gehad totdat ’n vanghok met lekker peuselhappies hom uiteindelik geflous het.

Maande later is hy weer in Kanonkop gewaar, maar toe het hy stil-stil verdwyn.

Twee jaar gelede het dieselfde ‘bobjan’ egter weer sy verskyning gemaak, dié keer in Samora Machelstraat, naby die Middelburg Mall, waar hy in ’n boom geskuil het.

Cornelius vertel dat die bobbejaan die volgende oggend, toe hy by die hok aankom, behoorlik toertjies uitgehaal het, asof hy in ’n sirkus was.

“Ek het toe geweet hierdie is ’n bobbejaan wat mak gemaak is,” sê hy.

Ou sekelstert is later sowat 100 km verder, in die Dullstroom-omgewing, vrygelaat.

Maar hoe weet Cornelius dit is dieselfde bobbejaan?

“Hy het ’n kenmerkende buig in sy stert en die vingers aan sy linkerpoot is styf.”

En sowaar! Toe Peet Erasmus gistermiddag ’n foto van die bobbejaan aan Cornelius stuur, was daar geen twyfel nie: Dit was ou sekelstert.

Die staatsveearts is oor die bobbejaan se besoek aan Roberts Landgoed in kennis gestel en het na hom gaan soek om hom te verdoof, maar die poging was onsuksesvol.

Daar sal vandag weer na die bobbejaan gesoek word.

Intussen is inwoners van die landgoed in hul groep gewaarsku om liefs hul vensters en deure toe te hou, troeteldiere veilig te hou en nie die bobbejaan te konfronteer nie.

En die res van Middelburg se inwoners se reaksie?

“Hoera vir ons jolige bobbejaan!”

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button