NewsUpdate

Opvolg: Niemandt kry borg

Die man wat in die tronk moes sit omdat hy na bewering twee keer ’n hofbevel verontagsaam het, het borg gekry.

Liam Niemandt is twee weke gelede toegesluit omdat hy twee keer die beskermingsbevel wat sy eksvrou, Chantal, gekry het, verontagsaam het.

Die ondersoekbeampte, konst. Lucky Brookman, het die borgaansoek teengestaan. Een van die redes wat hy gegee het is dat mnr. Niemandt die bevel twee keer verontagsaam het “en niks hom keer om dit wéér te doen nie.”
Konst. Brookman het aangevoer dat “me Niemandt vir maande by haar ouers gebly het, omdat sy bang is vir mnr. Niemandt”.

Hy het ook melding gemaak dat mnr. Niemandt vir me. Niemandt al vir maande lastig val en dat daar sprake was van geweld in hul huwelik.

Mnr. Niemandt se regsverteenwoordiger, me. Latoya Jansen, het die polisieman gevra of me. Niemandt al ooit enige sake van geweld teen mnr. Niemandt aanhangig gemaak het, waarop die polsieman melding gemaak het van die beskermingsbevel wat twee keer verontagsaam is.

Hy het vertel dat die polisie op 21 Oktober ’n waarskuwingsverklaring geneem het van mnr. Niemandt nadat me. Niemandt vir die eerste keer gekla het dat hy die bevel verontagsaam het. Toe hulle op 23 Oktober ’n tweede klagte kry, is mnr. Niemandt gearresteer.

Dit het gegaan oor ’n onderonsie wat ontstaan het tussen die twee in ’n winkel in die Middelburg Mall.

Die argument het só hewig geraak dat me. Niemandt haar pepersproei uit haar handsak gehaal het en een van die werknemers in die winkel die paniekknoppie gedruk het. Mnr. Niemandt het weggeloop toe hy gedreig is met die pepersproei

Me. Niemandt het dr. Alan Kok (pediater), wat elders in die Mall was, gebel vir hulp, wat haar na buite vergesel het.
Volgens me. Niemandt en dr. Kok, het mnr. Niemandt hulle buite gekonfronteer, foto’s van hulle geneem en ook aan dr. Kok gestamp.

Dr. Kok sê hy het niks gedoen tydens die gebeure nie en net vir me. Niemandt aangeraai om polisie toe te gaan en hulle in te lig dat hy vir die tweede keer daardie week die beskermingsbevel oortree het.

Hy het aangebied om haar by die polisiestasie te ontmoet, waarop syself huistoe is om die beskermingsbevel dokumente te gaan haal.

Me. Niemandt het vir ’n joernalis vertel dat mnr. Niemandt haar van die pad af probeer dwing het naby haar huis.

Mnr. Niemandt is self ook na die polisiestasie, waar hy gearresteer is. Hy het op dieselfde dag ’n teenklagte van aanranding teen dr. Kok aanhangig gemaak en R500 borg is intussen aan dr. Kok toegestaan.

Die Niemandts en dr. Kok was vroeër vanjaar in die nuus nadat mnr. Niemandt vir dr. Kok met ’n mes gesteek het.

Mnr. Niemandt het beweer hy het homself verdedig en ook gesê dat dr. Kok ’n verhouding met sy vrou het. Die Niemandts is in Meimaand geskei.

“Wie is dié dr. Kok dat me. Niemandt hóm eerder bel as die polisie wanneer daar probleme is? Hoekom het dr. Kok na die Niemandts se huis gegaan die eerste keer en hoe was hy weer so gou daar vir hulp by die Middelburg Mall?” het landdros Emmanuel Dumelhleli tydens die formele borgaansoek van mnr. Niemandt gesê.

Hy het gemeld dat “as me. Niemandt oneerlik is ten opsigte van haar verhouding met dr. Kok, kan sy oneerlik wees ten opsigte van haar beskuldigings teenoor die beskuldigde.”

Landdros Dumehleli het borg van R2 000 toegestaan en mnr. Niemandt gewaarsku dat hy geen kontak met me. Niemandt mag hê nie. “Nie eers ’n WhatsApp of BBM nie! Sou jy die bevel verontagsaam, sal jy gearresteer word en in aanhouding bly tot die saak afgehandel is.”

• Op ’n vraag van mnr. Niemandt hoe die bevel sy besoekregte ten opsigte van sy kinders gaan affekteer, het landdros Dumehleli hom aangeraai om hom tot die kinderhof te wend.

Lees meer hier:

Opvolg: Die dokter, die man en hofsake

Dr. Kok en messteker sage duur voort

Opvolg: Interdik teen dr. Kok

Opvolg: Dokter Kok drama duur voort

Opvolg: Dokter begin geveg

Dokter het al met gereg gebots

Opvolg: (Video) Wys bebloede dokter

Opvolg: Dr. Kok uit kamers geskop

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button