News

Internet affair loop skeef

'n Getroude vrou wat deur haar internet minnaar afgepers word, het haar na die Middelburg Observer gewend om ander vrouens te waarsku om "twee keer of selfs drie keer te dink" voordat hulle aanlyn geselsies met vreemdelinge aanknoop.

Die vrou, wat op versoek anoniem gehou word, sê dat sy ‘n paar maande gelede deur ‘n vriendin oortuig is om by ‘n selfoon kletshoekie aan te sluit, nadat sy haar hart by haar uitgestort het oor haar ongelukkige huwelik.

Sy was ‘n week op die groep toe ‘n man, ook van Middelburg, haar genader het om privaat te gesels.

“Hy was so sag en ordentlik met my. Alles waarna ek gesmag het. Hy het my weer mooi laat voel en baie komplimente uitgedeel. Ek het gevoel asof ek met hom oor enige iets kan praat.”

Hy het haar, terwyl sy en ‘n vriendin by ‘n swembad gekuier het, gevra vir ‘n foto. Sy het vir hom een van hulle twee in hul baaikostuums gestuur.

Daarna het die foto versoeke al hoe meer gewaagd geword. Omdat sy hom vertrou het, het sy toegegee en vir hom naakfoto’s van haarself gestuur. Hy het ook vir haar foto’s van sy privaatdele gestuur wat sy daagliks van haar foon afgevee het, omdat sy bang was dat haar man haar sou uitvang. Video’s het sy gehou.

Tydens hul verhouding het die man verskeie kere probeer om ‘n persoonlike ontmoeting te reël. Sy het elke maal weggeskram. Die man het ook gevra om geld by haar te leen.

Verlede naweek het die eerste krake in die kuberverhouding begin wys, toe sy vir die soveelste keer geweier het om hom te ontmoet. Hy het vir haar gesê dat hy weet dat sy getroud is, weet waar sy bly en weet waar haar man werk en wat sy naam is.

Die eens saggeaarde man het verander in ‘n koue afperser wat haar gedreig het dat hy haar foto’s op haar man se Facebook profiel sal deel as sy nie R1 000 aan hom oorbetaal nie. Daarna het hy haar ook gevra vir ‘n televisiestel en drank.

Toe die vrou om hulp vra, en selfs oorweeg om polisie toe te gaan, moes sy agterkom dat sy eintlik niks van die man af weet nie. Sy het nie sy woonadres geken nie, en was nie seker of die naam wat hy aan haar gegee het sy regte naam was nie. Sy het ook nie geweet wat sy van is nie en was nie seker of die foto op sy BBM en WhatsApp profiel regtig syne was nie.

Al die foto’s wat sy van hom gehad het is afgevee en die video’s wat sy oorgehou het, het nie sy gesig gewys nie.

As sy nie die geld betaal het, wat sy nie gehad het nie, sou haar hele huwelik in gedrang wees. Sy het ook nie geweet waar om die man op te spoor om ‘n kriminele saak teen hom te maak nie.

Toe sy om hulp by ‘n selfoonwinkel gaan aanklop het, is daar vasgestel dat spyware op haar foon geïnstalleer is. Die sagteware stel die installeerder in staat om die foon se ligging op te spoor en kan ook tydens gesprekke inluister.

Spyware kan deur middel van ‘n video wat aan jou foon gestuur word en wat jy dan kyk, onwetend op jou foon geïnstalleer word. Dit is ook nie moeilik om naakfoto’s en video’s van die internet af te laai en voor te gee dat dit jou eie foto’s is nie.

So het die man begin om persoonlike inligting te bekom en sy teiken daarmee af te pers. Tydens ‘n telefoongesprek met haar ma, het sy sekere dinge gesê waaroor haar afperser haar later uitgevra het. Hy het ook geweet waar sy haarself bevind en tot vir haar gevra wie die mans saam met haar is toe sy by ‘n beskermingsgroep om hulp gaan aanklop het en met twee van hul lede ontmoet het.

Die sagteware is by die selfoonwinkel van haar foon afgevee.

Die vrou is met geen keuse gelaat anders as om die man te probeer oortuig om haar te ontmoet in ‘n poging om agter te kom wie hy is en waar hy bly nie.

Tydens hul ontmoeting Dinsdag, het die man onderneem dat hy al die foto’s en boodskappe van sy foon sal afvee. Hy het dit gedoen in ruil vir ‘n rygeleentheid na ‘n winkel sodat hy inkopies kon doen. Daarna het hy vir die vrou gesê dat sy van alles moet vergeet en dat hy haar net ‘n les wou leer.

Dit kon egter soveel erger uitgedraai het. Die vrou sê sy besef nou dat sy haarself in reuse gevaar gestel het.

“Ek was nog nooit in my lewe so bang nie. Hy kon enige iets aan my gedoen het, ek sou magteloos wees.

“Ek besef nou eers in watter gevaar ek my huwelik geplaas het. Ek kan nie dink wat my besiel het nie. Ek het nou eers besef wat my huwelik werd is, nou dat ek dit amper verloor het.”

Sy het ander vrouens, wat dit dalk oorweeg om dieselfde paadjie te stap, gewaarsku dat hulle nie bewus sal wees van hoe gevaarlik dit is, tot dit te laat is nie.

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button