News

Video: Tierboskat wen op Kwêla

Wanneer 'n katkind na haar ma luister en goeie maniere het, wen haar ouers 'n vakansie in Namibië.

Rénette en Jess Hill van Kranspoort, ouers van Willemien die tierboskat, vertel dat hulle dié kosbare kat van kleins af “reg grootgemaak” het.

“Ek het vir Willemien gekoop met die doel om haar weer in die natuur terug te sit. Willemien is baie nuuskierig en die kleinhuisie het haar veral geïnteresseer. Sy is geleer om dit soos ma en pa te gebruik.” vertel Rénette trots.

Dit het Rénette baie op- en aftel gekos, maar uiteindelik het Willemien een oggend self uit die bed opgestaan – ma en pa se dubbelbed natuurlik – badkamer toe gegaan en weer in die bed teruggeklim.

“Vandaar af het sy die gewoonte volgehou en selfs al speel sy buite, sal sy inkom. Sy is baie uniek.”

Rénette het ingeskryf vir Kwêla se Feite-en-Geite-kompetisie met ‘n video waar Willemien, baie oulik, haar ding doen net soos ‘n mens sou. Die wenners is gisteraand aangekondig en Willemien, met haar goeie maniere, het vir ‘n tweede plek gesorg wat ‘n sewedae vakansie in Namibië vir haar “ouers” behels.

Die vakansie is ‘n sewedag 4 x 4 kamp-ervaring vir twee van Swakopmund tot by die monding van die Kunenerivier.

Ingesluit is die retoervlug vanaf Kaapstad/Johannesburg na Walvisbaai, die voertuig en bestuurder vir die toer deur die woestyn, drie etes per dag terwyl hulle in die woestyn is en een nag se akkommodasie voor en na die toer.

“Dit was baie onverwags en ‘n totale verrassing. Ek was nog nooit in Namibië nie en is ongelooflik opgewonde!”
Willemien gaan ongelukkig nie saam nie, siende dat sy reeds weer terug in die natuur is soos wat Rénette oorspronklik beplan het.

Dit is belangrik om te weet dat jy ‘n permit van natuurbewaring nodig het om enige wilde dier aan te hou en moet dus nie probeer om jou eie Willemien groot te maak sonder ‘n permit nie.

• Kranspoort vier volgende Saterdag, 5 Desember die dorp se 25ste bestaansjaar. Daar sal kunsuitstallings, gholfkompetisie, môremark en nog vele meer vir oud en jonk wees.

Die viering begin 08:00 by die gholfbaan en toegang is gratis. Bel gerus vir Rénette, wat ook die Direkteur van Gemeenskapsdiens in Kranspoort is, vir enige navrae: 082 924 6848. Gaan kyk na die video op www.mobserver.co.za.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Back to top button