News

Boervroue was bloed uit hare

'n Bejaarde vrou is Dinsdagnag in haar plaashuis op Laersdrift gemartel.

Jacky Snaggs (75) net na middernag wakker gemaak deur haar honde wat vreeslik blaf. Sy het opgestaan om te gaan ondersoek instel maar kon niks verdag sien nie.

Met haar terugkeer na haar slaapkamer het ‘n man haar om die nek gegryp en haar met ‘n vuurwapen oor die kop geslaan. Mev. Snaggs is in haar slaapkamer aangehou en met haar bedliggie se elektriese kabel vasgebind. Daar was drie aanvallers wat haar beveel het om die kluis oop te sluit. As sy nie vinnig genoeg gereageer het nie, het hulle haar geslaan.

Die rowers het gedreig om haar te verkrag, maar gelukkig nooit hul dreigement uitgevoer nie. Hulle is weg met verskeie jaggewere, ‘n haelgeweer en handwapen, asook kontant en mev. Snaggs se selfoon.

Sy kon haar loswikkel en op die landlyn alarm maak by haar buurman.

Boere in die omgewing het hul na die toneel gehaas om hulp te verleen. Daar is dadelik begin om die spoor van die drie verdagtes te vat. Boervroue het hulle oor mev. Snaggs ontferm en haar na ‘n buurplaas geneem om haar wonde te verbind en die bloed uit haar hare en van haar lyf af te was.

Die hulp van die Heritage Protection Group (HPG) asook die provinsiale speurtak is ingeroep.

Die jaggewere is in die veld teruggekry. Die verdagtes se spoor is tot by die Sango informele nedersetting naby Laersdrift gevolg.

Knap spanwerk deur die polisie, boere en lede van HPG, het daartoe gelei dat drie verdagtes vasgetrek is. Al drie is Zimbabwiese landsburgers. Die haelgeweer en handwapen wat by mev. Snaggs gesteel is, is in die dak van ‘n skool naby die verdagtes se huis teruggevind.

Op die koop toe is daar twee ander mans gearresteer wat in besit van verskeie gesteelde goedere, onder andere koperkabels, gevind is. Die mans word met vier voorvalle van koperdiefstal per week vir die afgelope maand verbind.

Die verdagtes sal na verwagting vandag (Vrydag) in die hof verskyn. Die dossier word deur a/o Barend van Wyk van die provinsiale speurtak gedra.

• HPG fokus op geweldsmisdaad en renosterstroping en bied hul dienste gratis aan. Hulle is ‘n nie-winsgewende organisasie wat totaal en al staat maak op borge en skenkings. Indien jy met hulle in kontak wil kom of hulp nodig het, bel gerus vir Sakkie Louwrens by 071 798 7954 of Ben Engelbrecht by 083 380 1582.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button