News

Opvolg: ‘Ek wil nou net die stukke optel’

Die reisagent wat aangekla is vir bedrog omdat sy vele mense se geld gevat en nie hul vakansies bespreek het nie, is 'n opgeskorte vonnis opgelê en al die klaers se gelde is terugbetaal.

Chantel Cloete is Woensdag in die hof op Evander gevonnis tot vyf jaar gevangenisstraf, wat opgeskort is vir vyf jaar, op voorwaarde dat sy nie weer skuldig bevind word aan ‘n misdryf waar oneerlikheid ‘n element is nie.

Op dieselfde dag is die meer as R500 000 aan die verskillende klaers terugbetaal (sy het dit ‘n ruk gelede al in die prokureurs se rekening inbetaal).

“Ek wil nou net die stukke optel, weer net normaal wees. Ons het ‘n lang pad gestap. Ek het lankal niks meer nie. Ek hét reggemaak en vir almal verskoning gevra.

Ek vat my straf, want ek was verkeerd. Ek vra nou net vergifnis, dat almal met hul lewens kan aangaan,” het me. Cloete Donderdagoggend snikkend gesê.

Haar ma, Christa, het gesê dat daar van die begin af vir die klaers gevra is dat hulle die sake sal terugtrek as sy die gelde terugbetaal. “Daar was net één klaer wat geweier het en dit is hoekom Chantel skuldig bevind en ‘n opgeskorte vonnis gekry het. Daardie persoon sal eendag voor die Here moet verduidelik. Chantel het daardie geld gebruik om drie gesinne aan die lewe te hou. Sy het nie mooi goed daarmee gekoop nie! Sy het gedink sy kan die geld vervang met iets anders, wat toe nooit gerealiseer het nie en toe stort alles in duie.”

Cloete het as reisagent van Travel Exec gelde gevat vir oorsese vakansies, maar nooit die vakansies bespreek nie.

Die klaers was:

• Mnr. en me. Ivan en Celeste Gray wat nie gedurende Mei 2014 op wittebrood na Thailand kon vertrek nie, omdat die R47 000 wat hulle oorbetaal het, nie inbetaal is nie.

• Me. Deneys Collins en haar dogter, Anelda, se vakansie na Turkye in Julie 2014 is na die maan nadat hulle R79 292 inbetaal het en die vakansie nie betaal is nie.

• Die Roosters Rugby toergroep het R415 000 aan me. Cloete oorbetaal vir die Phuket 10-man rugbytoernooi, wat ook nie inbetaal is nie. Die span en hul gevolg, 44 mense, moes inderhaas elk weer R9 536 gaan leen om wel aan die toernooi deel te neem.

Mnr. Carel Schutte (toerorganiseerder) het hierdie week gesê dat sodra hy uit die hospitaal ontslaan word (hy is daar vir herstel na ‘n operasie), sal al die gelde aan die toerlede terugbetaal word.

“Ek is bitterlik bly vir die jongmense wat hul geld gaan terugkry, want almal moes op die ou einde bykans R20 000 opdok, omdat hulle vir twee kaartjies moes betaal en het dus dubbel lenings aangegaan. Wat ‘n Kersgeskenk vir almal!”

Wittebroodsdrome aan skerwe

Toer kos span nou R836 354

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

Back to top button