News

Liggieshuis helder lewens op

Kersvader verruil tydelik sy huis in die Noordpool vir die liggieshuis in Dahliastraat 24.

Frances en Keith Davies sit hulle liggies al vir die afgelope sewe jaar aan in die feestydperk en hierdie jaar het hulle besluit om dit vir die publiek oop te maak in samewerking met Middelburg se 911-groep.

“Ons het glad nie so baie mense verwag nie. Mense het selfs piekniek op ons gras gehou en hordes kindertjies het opgedaag.” vertel Frances.

Wat begin het as sommer net liggies en kersversierings vir die mooiheid, het nou ‘n liefdadigheidsprojek geword wat hoop om lig in minderbevoorregte mense se lewens dié feestydperk te bring.

Volgens Gehard du Plooy, voorsitter van die 911-groep, word daar donasies ingesamel spesifiek vir die mense in Koppiestraat en aan mense wat onlangs afgelê is by myne.

“Die ingangsfooi, slegs vir mense wat voel hulle kan dit bekostig, is ou klere, nie-bederfbare kos en enigiets wat ons kan gebruik om vir die minderbevoorregte mense in ons midde te gee.”

Frances vertel dat hulle hierdie doen vir die “ou kindertjies”.

“Daar is niks wat die gevoel kan beskryf as die kindertjies hier inkom en die liggies, Kersvader en versierings sien nie.”

Kersvader sal elke Woensdag ‘n draai kom maak by die liggieshuis en kindertjies kan hulle briefies met geskenkversoeke in Kersvader se posbus, die ‘Santa Stop’, gooi by die liggieshuis. Kersvader belowe om sy bes te probeer om die geskenkies in die hande te kry.

Frances en die vroue van die 911 en ander radiogroepe, hou elke maand ‘n fondsinsameling om die radiogroepe se finansies ‘n hupstoot te gee.

“Die mense doen die werk vrywillig en ontvang geen finansiële ondersteuning nie. Die geld wat ons insamel gaan vir petrolgeld, en reflektorbaadjies. Ons het hierdie jaar van die geld gebruik om ook hierdie projek te loods.”

Op 10 Desember word daar ‘n ete gehou by die liggieshuis vir die bejaardes van die SAVF en die 24ste Desember sal hulle geskenkies uitdeel aan die behoeftige mense.

“Ons wil ook net baie dankie sê aan Kersvader wat gereeld kom kuier en aan Jaco van Wyk wat die musiek en sang vir ons doen.”

Gaan maak gerus ‘n draai by die liggieshuis, bring ‘n donasie en koop ‘n worsbroodjie en koeldrank by hierdie gasvrye mense met harte wat op is vir minderbevoorregtes.

Die huis is elke aand oop en die liggies is aan tot 31 Desember.

Persone wat ‘n bydrae wil lewer om die projek en radiogroepe te ondersteun is welkom om vir Frances te bel by 082 375 4997.

• Johan van Wyk tree op 11 Desember op by Nagskof en vir enige navrae bel hom by 079 699 2732.

Back to top button