Bye takel man en hond
Met woedende bye wat van oraloor aanval, moes 'n kontrakteur in 'n rivier spring en 'n gesin magteloos toekyk hoe hul hond doodgesteek word.
Doctor Khuzwayo (kontrakteur) was verlede Donderdag 17 Desember besig om gras te sny met sy trekker in Pleinstraat, toe hy ‘n byenes raaksny en die bye hom takel.
Hy het van die trekker afgespring en van huis tot huis gehardloop om te kyk of hy nie iewers skuiling kan kry nie.
Me. Marleen Malan was in haar huis, toe sy lawaai buite hoor en die paniekerige man met die swerm bye om sy kop sien wat oor hul muur probeer klim. Hul hond, Tau, het egter begin blaf en Doctor moes weer terughardloop pad toe.
Me. Malan se seun, Zander, het vir hom geskree om in die spruit, net laer af in die straat te spring en Doctor het reguit soontoe gehardloop en skuiling in die water gaan kry.
ER25 Ambulansdienste is ontbied, maar hulle kon nie naby Doctor kom nie, omdat die bye hulle ook aangeval het. Die ambulansdienste het later met nat takke rook probeer maak, maar nie eers dit het gehelp nie.
Byeboer Martin Nel het kort hierna opgedaag met sy beskermende pak, waarop hy beroking gespuit het om Doctor en hom gehelp het tot by die ambulans. “As hy 10 minute langer in daardie water was, was hy dood, want hy was al bewerig van al die angels.”
Doctor is tot 22:00 in die Life Midmed Hospitaal behandel, waarna hy ontslaan is.
• Terwyl Tau vir die hardlopende man geblaf het, het ‘n deel van die swerm op die hond toegesak.
Me. Malan het besef sy en haar twee kinders is ook in gevaar, waarop sy hul een klein hondjie gegryp en in die huis ingehardloop het. Een van die bye het haar ook raakgesteek. Sy het ook haar man, Jean, laat weet.
Mnr. Malan het na die huis gejaag, maar hy moes, saam met sy vrou en kinders, magteloos toekyk hoe die hond heen en weer hardloop, teen vensters spring en later in die buitekamer gaan lê. “Ek het by die kar probeer uitklim, maar die bye het my deur die venster probeer aanval.
Toe die swerm bietjie afneem, het mnr. Malan uit sy voertuig geklim en die bye met ‘n brandblusser probeer verjaag, maar dit het geen verskil gemaak nie. Die hond het kort daarna gevrek.
Die gesin het nie besef die ander hondjie, wat sy gegryp en mee gehardloop het, is ook raakgesteek. Die hond het kort na die aanval epileptiese aanvalle gekry en het die naweek gevrek.
• Mnr. Nel het mense gewaarsku om nie met byeneste te lol nie en nie naby dit gras te sny nie. Die vibrasies van die grassnyers kan bydra tot hul aggressie.
“Bly weg van insekgif af! Dit maak hulle baie aggressief!”
Hy haal teen ‘n tarief byeneste uit en mense kan hom kontak by 083 655 0179.
