News

Video: Tweede vulstasie beroof

'n Bende rowers het op Oujaarsdag by 'n vulstasie toegeslaan, werkers en 'n kliënt aangehou en hulle met pepersproei bygekom.

Volgens Jannie Myburgh, eienaar van die Engen vulstasie in Samora Machelstraat naby HTS Middelburg, is dit heel moontlik dieselfde mans wat ‘n ruk gelede by die Sasol vulstasie in Meyerstraat toegeslaan het.

Op die videomateriaal kan daar gesien word hoe ‘n swart BMW voor een van die petrolpompe stilhou. Drie mans peul by die deure uit. Twee pyl op die deur van die winkel af terwyl een rower na die joggies se kantoor mik.

Die vierdie man bly by die motor. Hy gooi brandstof in en gaan staan daarna teen die pad om wag te hou terwyl sy makkers die winkel plunder.

By die joggies se kantoor beveel die rower die joggie wat binne die kantoor besig is met opleiding om onder die lessenaar te gaan lê.

Hy trek sy skoene uit en trek die joggie se kouse oor sy hande sodat hy nie vingerafdrukke agterlaat nie. Nog ‘n joggie word in die kamertjie tot op die vloer gedwing.

Die rower vat beide joggies se selfone, steek dit in sy sak en gaan sit dan later dood rustig bo oor sy gyselaars op die toonbank.

Twee ander rowers gaan ruk aan die deure van die winkel. Hulle is so angstig om in te kom dat hulle aan die verkeerde deurhandvatsel ruk en nie bewus is dat die ander een oop is nie. Ten einde laaste skop hulle die deur oop om toegang tot die winkel te verkry.

Die kassier word na die grond gedwing en een van die rowers gaan terug na die kar om ‘n toksak met gereedskap te gaan haal. Kort daarna begin die vonke spat en die rook staan soos wat hulle probeer om die kluis oop te sny.

‘n Niksvermoedende kliënt loop hom in die rooftog vas toe hy by die winkelvenster probeer om lugtyd te koop.

Hy word na die kamertjie saam met die petroljoggies gedwing en die rower wat gestaan en wag hou het, spuit hom asook die joggies in die gesig met pepersproei terwyl hulle op die grond lê.

Die rowers binne in die winkel vlug met die geld wat hulle in die kasregister gekry het, nadat hulle besef dat hulle nie die kluis gaan oopkry nie.

Die bende ry weg met die BMW sowel as ‘n swart Volkswagen Polo wat aan die kliënt behoort.

Lede van die publiek word versoek om op die uitkyk te wees vir die swart BMW op die videomateriaal. Volgens die voorkoms en die modus operandi van die bende blyk dit dieselfde groep te wees wat in November by die Sasol vulstasie toegeslaan het.

In beide gevalle was daar ‘n man met ‘n pet op sy kop wat ‘n serp om sy gesig vas gemaak het, asook een wat ‘n sweetpak baadjie met ‘n kappie wat laag oor sy gesig getrek is, aan het. Daar is ook ‘n man met ‘n werksoorpak met reflektor strepe op.

In albei rooftogte kon die rowers nie daarin slaag om by die geld in die kluis te kom nie en moes hulle tevrede wees met die kasregister se opbrengs.

Die polisie ondersoek ‘n klag van gewapende roof.

Video: Gewapende roof by Sasol

Send a message to our SMS line 37 940 or add us onto Facebook and Twitter @Mobserv to receive your free daily news updates.

Also check out our Video’s on Youtube daily!

 

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button