News

Kanonkop familie geskok oor broer se dood

'n Inwoner van Kanonkop moes Maandagoggend na Pretoria ry vir finale reëlings nadat sy polisieman broer deur 'n gevangene oorval en vermoor is.

Hy is verlede Donderdag onthoof tydens ‘n ongeluk in Pretoria, nadat die gevangene wat hy vervoer het, hom oorval en verwurg het, terwyl hy bestuur het.

Adjudant offisier Adriaan Bouwer (49), van die Modimolle speurtak, se broer Ben, woon in Middelburg.

Mnr. Bouwer sê dat sy broer se dood vir die familie so vreeslik is dat hulle nog nie daaroor kan praat nie.

“Ons probeer nog ‘to grips’ kom met die ding. Dis baie sleg vir ons familie.”

Ao. Bouwer moes ‘n prisonier vanaf Limpopo na Pretoria vervoer, waar hy in die hof sou verskyn. Op die N1 hoofweg het die gevangene ao. Bouwer oorval deur hom met sy boeie te verwurg.

Dit het veroorsaak dat lt. Bouwer net voor die Stormvoëlafrit beheer verloor en gebots het. Hy is op die toneel dood verklaar terwyl die gevangene in ‘n kritieke toestand hospitaal toe vervoer is.

Lt. kol. Ronel Otto, Limpopo polisiewoordvoerder, sê dat die gevangene in Modimolle gearresteer is op ‘n klag van dronkbestuur. Hy is na sy arrestasie met verskeie misdrywe, onder andere gewapende roof, in Gauteng en die Noord-Wes verbind en was oppad om op een van die klagtes in die hof te verskyn. Sy identiteit is nie bekend gemaak nie.

Mnr. Bouwer sê dat sy broer ‘n passievolle polisieman was met 30 jaar diens.

“Hy was een van daai ouens wat sy dockets in die aand huistoe gevat het. As jy by hom aankom kan jy maar weet daar gaan dockets wees waarmee hy besig is. Dit was net wie hy was.”

Ao. Bouwer se liggaam is deur die Modimolle stasiebevelvoerder uitgeken.

“Ek glo mens moet hom onthou soos wat hy was, nie soos wat hy nou lyk nie.”

Hy sê dat sy broer, wat in Mei sy 50ste verjaardag sou vier, een van die polisielede is wat die ruggraat van die mag was.

“Dit wil voorkom of daar op die oomblik ‘n slagting onder die polisie is. Asof hulle geteiken word. My broer se dood is regtig vir ons sleg, veral omdat hy so toegewyde polisieman was.”

Ao. Bouwer laat ‘n broer, suster, vrou en stiefkinders agter. Hy sal Vrydag om 11:00 vanuit die Hervormde Kerk (Witkerk) in Modimolle begrawe word.

Back to top button