Gemeenskap span saam om Quintin Bernardo waardig te begrawe
’n Pleidooi om hulp het weldoeners saamgebring om Quintin Bernardo ’n menswaardige begrafnis te gee.
Dit het alles met ’n boodskap begin; ’n baie lang boodskap waarin Johanna Deysel om hulp gepleit het.
“Ons as oud-Krugerdam-mense is in nood. Clive Bernardo se seun, Quintin, het ná sy pa se dood die pad byster geraak. Hy het sy ma op ’n jong ouderdom verloor. Quintin is Dinsdag oorlede by iemand wat hom slaapplek en ’n bord kos gegee het. Hy het geen naasbestaandes waarvan ons weet nie.”
Deysel het Bernardo van sy kinderdae af geken. Nou moes sy ’n manier vind om hom ’n waardige afskeid te gee.
Die begrafnis sou R15 000 kos – geld wat sy nie gehad het nie. Die begrafnisondernemer was egter bereid om die koste tot R9 000 te verminder as Observer kon help.
“Hy was ’n mens wat geval het, wat as kind baie hartseer beleef het, en vandag is daar niemand wat vir hom ’n laaste rusplekkie kan gee nie. Soos hy gelewe het, so het hy gesterwe,” het Johanna in haar boodskap geskryf.
Sonder hulp sou Bernardo as armlastige begrawe word. Die ander opsie was om genoeg geld bymekaar te kry om hom ’n menswaardige begrafnis te gee.
Reëlings is getref
Die begrafnisondernemer, André van Wyk van Roseleigh-begrafnisdienste, het reeds ingestem om Bernardo se liggaam te gaan haal en die nodige reëlings te tref. Nadat R2 000 vir die koste betaal is, is die liggaam gehou terwyl daar na die res van die geld gesoek is.
Die bydraes het stadig maar seker ingekom. Eers R1 000, toe nog R700.
Teen daardie aand het net R300 nog ontbreek.
Skielik het daardie laaste R300 soos ’n groot struikelblok gelyk.
Kis is voorsien
Gelukkig het nog ’n weldoener na vore gekom. Die volgende oggend kon Yvonne van Staden die nodige dokumentasie afhandel.
Van Wyk het ingestem om die kis te voorsien en die begrafnis by die Rondebosch-begraafplaas te reël.
Bernardo word Donderdag 22 Oktober om 10:00 begrawe, met ’n kis, blomme en ’n kort afskeidsdiens by sy graf.
