Die Rooibul, Kwagga Smith, word ’n Bloubul.
Die gewese HTS Middelburg-losvoorspeler is al lank in die Pretoriase span se visier.
Suid-Afrikaanse rugby het vanoggend aangekondig dat sy kontrak met die Shizuoka Blue Revs in ’n onderlinge ooreenkoms beëindig is.
Speler vrygestel
Die Japannese klub het Dinsdag bevestig dat die Springbok-losvoorspeler vrygestel is, wat ’n einde bring aan sy tydperk van agt jaar in Asië.
Nog ’n Springbok, Malcolm Marx, wat ook sy klubrugby in Japan speel, kan in die toekoms ook in blou uitdraf.
André Bester van die webwerf SupaRugby het ook vandag daarop gesinspeel dat Springbokslot, Franco Mostert, in die toekoms vir die Blou Bulle kan uitdraf.
Bester het gesê dat Mostert “vir hom ’n plasie naby Brits gekoop het”.
Smith besit ’n restaurant en plaas op Dullstroom, wat dit ideaal vir hom maak om rugby in Pretoria te speel.
Ernstige kniebesering
Hy het nie op navrae reageer wanneer hy by die Bulle aanmeld nie. Hy het in Mei ’n ernstige kniebesering opgedoen en sal waarskynlik eers vroeg in 2027 vir die Bulle uitdraf.
Smith het in 2018 by Yamaha Júbilo (soos die Blue Revs destyds bekend gestaan het) aangesluit en homself mettertyd gevestig as een van die voorste buitelandse spelers in Japan.
Hy het in 78 wedstryde oor verskeie kompetisies heen gespeel, is vyf keer in die “Span van die Seisoen” (vir die Top League/League One) ingesluit, en is in die 2022-’23-seisoen as die “League One-speler van die Seisoen” aangewys.
