Die sanger wat Bobby van Jaarsveld tydens ’n uitsending van The Voice in trane gehad het, het die Danny-toekenning in Amerika gewen.
Vernon Barnard (Junior) is met ’n groot droom New York toe.
Maandagoggend het sy pa, Vernon (Senior), laat weet hulle harte loop oor van blydskap en dankbaarheid.
Dit was oomblikke nadat die jong Vernon nege ander finaliste uitgestof het om met die titel weg te stap en vyf duisend dollar in sy sak te steek.
’n Verhoog vir wêreldklas-kunstenaars
Die Danny-stigting bied die kompetisie jaarliks aan en dit word beskou “as ’n verhoog vir wêreldklas-kunstenaars”.
Die Stigting sê op sy webwerf “dit is slegs een manier waarop ons help om deur middel van musiek ’n meer regverdige toekoms vir mense met gestremdhede te bou. Elke jaar kies ’n paneel 10 buitengewone kunstenaars van regoor die wêreld om regstreeks in New York op te tree en sodoende die talent, passie en kreatiwiteit ten toon te stel wat in die wêreld floreer.”

Nadat hy gewen het, het VernonB, soos hy bekend staan, sy ondersteuners bedank.
“Ek is ongelooflik dankbaar om as die Community Choice Award-wenner by die 7th Annual Danny Music Foundation Awards aangewys te word! Aan elkeen wat gestem het, die boodskap gedeel het en ander aangemoedig het om te stem: Baie dankie. Julle ondersteuning beteken vir my meer as wat woorde kan sê. Bo alles kom al die eer die Here toe vir hierdie ongelooflike geleentheid. Dankie dat julle deel was van hierdie besonderse oomblik.”
Pa en seun reis nou terug na Suid-Afrika.
Vernon gaan ’n kort toer onderneem en besoek Middelburg aan die begin van November.
- Dit het slegs ’n paar note van die One Direction-treffer Story of My Life tydens die blinde oudisies gekos om die gehoor op hul voete te kry en beoordelaar Bobby van Jaarsveld in trane te laat uitbars tydens ’n opname van The Voice. Die Afrikaanse sanger kon skaars sy oë glo toe hy sy stoel omdraai en vir die eerste keer vir Vernon met sy sonbril sien. Medebeoordelaar Karen Zoid het selfs opgestaan om die huilende Van Jaarsveld ’n drukkie van vertroosting te gee. Vernon was later een van die finale deelnemers, alhoewel hy nie algeheel gewen het nie.