Swartmamba by skool gevang
’n Swartmamba van 2.4m wou hierdie week begin skoolgaan, maar ongelukkig was hy te gevaarlik vir sy mensemaatjies en moes gevang word.
’n Onderwyser van New Horizon Skool (Denniltonpad) het mnr. Zack Saayman (Voorsitter, LimPuma Herpetologiese Vereniging, Limpopo) gekontak oor ’n slang wat in ’n boom by die skool skuil. Hulle het hom meegedeel dat hulle vermoed dit ’n swartmamba kan wees.
Mnr. Saayman het gevrees vir die veiligheid van die leerlinge en het hom na die skool gehaas. Met sy aankoms het hy die slang, wat in ’n suurlemoenboom probeer skuil het, gesien en dadelik bevestig dat dit ’n swartmamba is.
Die slang het met die gesukkel om hom vanuit die dig begroeide boom te bevry, uit die boom geseil en in die onkruid in verdwyn.
Met die hulp van die tuinwerkers van die skool, het hul met ’n kantsnyer en strategiese beplanning, van waar die gras gesny moes word, tot waar die slangvanger moet staan, die slang uit die onkruid verjaag en is die slang reguit in die rigting van mnr. Saayman.
Gewapen met slangstokke het mnr. Saayman sommer vinnig die slang in ’n krat toegemaak. Die slang is na Mbidi Lodge geneem waar hy voortaan saam met vele ander slangspesies in die reptielpark sal bly.
Die swart mamba sal ook deur mnr. Saayman gebruik word in slangvertonings wat aangebied sal word by Mbidi Lodge. Die lodge bied elke Saterdag en Sondag ’n slangvertoning aan om 13:00.
• Die swartmamba (Dendroaspis polylepis) is een van die mees gevreesde slange in Suider-Afrika as gevolg van sy dodelike byt. Die slang is wyd versprei oor Suidelike Afrika, en kan gevind word in droë en klam savanna’s, laaglandwoude, wat beteken dat die Vallei die perfekte terrein vir hulle is om in te floreer.
“Die swart mamba is meestal aktief gedurende die dag wanneer dit jag vir kos soos knaagdiere, geskikte grootte soogdiere, en jong voëls of soms ander slange, maar mambas verkies eintlik warmbloedige prooi,” sê mnr. Saayman.
Die kleur van die jong swart mamba is lig grys tot olyf en verdonkering tot olyfgroen, geweer metaalgrys of grysbruin, afhangende van die ouderdom. Die naam swartmamba is afgelei van die kleur van die binnekant van sy mond, wat ’n inkswart kleur is.
Die jong swart mambas kan ’n lengte van twee meter binne ’n jaar bereik en volwasse swartmambas kan ’n lengte van twee tot vier meter bereik, maar kan soms vier of selfs vyf meter oorskry.
Die swart mamba beskik oor neurotoksiese gif wat verlamming van senuwees veroorsaak, veral dié wat asemhaling en hartklop beheer. Die slagoffer sal moeilike asemhaling ondervind en sal dan uiteindelik versmoor. Daar is anti-serum vir ’n mambabyt wat Polivalente anti-gif genoem word en word groot hoeveelhede soms gebruik om die slagoffers se lewe te red.
Mnr. Saayman het gemeld dat hierdie anti-serum beskikbaar by Groblersdal Hospitaal, asook Life Midmed Hospitaal in Middelburg.
• Die LimPuma Herpetologiese Vereniging is gestig in 2013. Die LPHA is een van die nuutste Herpetologiese Verenigings in RSA. Hulle is ’n gekombineerde Herpetologiese Vereniging tussen Limpopo en die Mpumalanga Provinsie.
In die geval van slangbytnoodgevalle of die verwydering van ’n ongewenste slang in jou omgewing, kontak mnr. Saayman (Limpopo) by 083 760 5284, Victor Boshoff (Mpumalanga) by 082 697 9954 of Arthur Roden by 072 534 4941 (Marble Hall area).


