News

Leraar praat oor pa se dood

"My pa was my pa en hy was lief vir my...". Die woorde van 'n seun wat rou oor die dood van sy pa.

Ds. Nicolaas Steenekamp (leraar van die Hervormde Kerk, Moedergemeente, Middelburg) het gesê: “dat ons vasgevang is tussen leuens, joernaliste en die polisie en tussenin is die feit dat ons pa dood is!”

Sy pa, dr. Steyn Steenekamp (76), se oorskot is Sondag gevind op sy plaas, Rietfontein, buite Mooinooi in Noordwes. Mediahuise het berig dat hy etlike dae vantevore reeds vermoor is.

Ds. Steenekamp was omgekrap oor berigte en inligting wat op sosiale media versprei is. “In alles wat in die media verskyn het, is daar net hier en daar elemente van waarheid.”

Hy voel egter baie van die stories wat geskryf is oor sy pa se moord is blote spekulasie. “Daar is ‘n paar dinge wat ons weet, die res van die goed is uitgedink in ‘n Gunston walm met ‘n beker koffie in ‘n joernalistekantoor!”

In Beeld is gemeld dat die Steenekamps deur middel van Facebook die skuldiges opgespoor en die inligting aan die polisie gegee het.

Ds. Steenekamp sê: “dit is loutere snert dat ons speurwerk gedoen het op Facebook om die skuldiges vas te trek! Dink jy dat ek en my boeties tyd het om op Facebook rond te soek vir skelms! Ons rou oor ons pa se dood. Hierdie is ‘n storie wat deur joernaliste opgedis is.

“Ek lees nie Facebook nie, ek sien dit as persoonspornografie! Hier is ‘n pot snert aan die broei.”

Ds. Steenekamp sê al wat hulle weet oor sy pa se dood, is dat die oorsaak onnatuurlik (vermoor) is. Die res van die detail, dat hy verwurg, oor die kop geslaan en sy hande en voete vasgemaak was, het hulle ook in die media gesien.

“My pa is vermoor. Ons weet twee is gearresteer en dat sy bakkie gevind is. Dit is dit.”

Die feit dat sy pa ‘n afgetrede akademikus was en vele belangrike poste beklee het, is nie nou vir hom die hoofsaak nie.

“Hy was my pa, hy was lief vir my en hy was slimmer as ek.”

• Ds Steenekamp het gesê dat dit ook onwaar is dat daar ‘n roudiens op Middelburg gehou gaan word.

Die ter aarde bestelling is vandag (Vrydag) om 10:00 in die Heathersdale begraafplaas, waarna die diens om 11:00 uit die Hervormde Kerk, Pretoria in Du Toitstraat sal volg.

• ‘n Oomblik van stilte is Woensdagaand gehou vir ds. Steenekamp se pa voor die Rooies wedloop weggespring het. Ds Steenekamp is voorsitter van die beheerliggaam by HTS Middelburg.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button