Mynwerknemer sterf op motorfiets
'n Werknemer van South 32 myn is Sondagoggend dood in 'n ongeluk op die Broodsnyersplaaspad, op pad werk toe.
Mnr. Jaco Nel (49) het daagliks vanaf Pretoria na die myn gependel. Sondag omstreeks 05:30 was hy in ‘n ongeluk slegs vyf kilometer van die werk af, op die Broodsnyersplaaspad. Sy BMW motorfiets het die pad verlaat en hy is op die toneel dood.
Geen ander voertuie was betrokke in die ongeluk nie en familie en kollegas het laat hierdie week nog gegis wat die ongeluk kon veroorsaak het.
Mnr. Nel was die afgelope sowat 10 jaar ‘n toesighouer by die Uitlaatstasie van South 32.
Mnr. Bernard van der Berg, kollega en vriend, het gesê dat hy altyd ander wou help.
Mnr. Nel het grootgeword in Waterval Boven, waar hy sy laerskoolloopbaan voltooi het aan Laerskool Oosterlijn en het later jare gematrikuleer aan Hoërskool Belfast (nou Belfast Akademie). Hy was vir ‘n ruk ‘n treindrywer in Waterval Boven, waarna hy Gauteng toe is en 10 jaar gelede by South 32 begin werk het as toesighouer.
Riaan, sy broer, het gesê “dat Jaco se afsterwe ‘n groot leemte in ons familie laat. Jaco het ‘n groot hart gehad, hy was so ‘n goeie mens.”
Mnr. Nel word oorleef deur sy vrou, Adele, kinders Tienie, Valerie, Chené en Ethan, sy ma, Martie, broers Riaan en Buks en susters Chrissie en Sanet.
• Die begrafnis was Donderdag in Pretoria.
• Daar was die afgelope drie jaar etlike motorfietsongelukke in die omgewing waarin verskeie mense gesterf of ernstig beseer is.
