Aap byt vrou in wildtuin
'n Bejaarde inwoner is in die wildtuin deur 'n aap aangeval. Me. Annemarie Swart (79) van Kosmospark is tans saam met haar man, Frik Uys (79), in die wildtuin met vakansie.

Me. Swart sê dat hulle Maandag by die Nkulu piekniek plek tussen Skukuza en Laer Sabie gestop het om ‘n roomys te eet.
“Dit was baie stil, omtrent net ek en my man was daar,” het sy vertel.
Terwyl sy haar vergaap het aan ‘n jong apie wat voor hulle op die tafel gespring het, het sy skielik “‘n ding” aan haar linkerkant sien beweeg en ‘n vreeslike brandpyn gevoel.
‘n Blouaap het haar aan haar linkerkantste bo-arm gegryp en gebyt. Toe sy besef wat aangaan het sy probeer om die aap van haar lyf af te skud. Hy het laat los, maar haar toe weer aan die voorarm beet gekry.
“Hy het net aanhou spring en byt, spring en byt. Dit alles het baie vinnig gebeur,” sê me. Swart.
Die dier het haar ook aan haar heup en op haar been beetgekry. Een van die opsigters het gesien dat daar moeilikheid is en met ‘n lat aangehardloop gekom. Dit het die aap laat vlug.
Die wond aan mev. Swart se bo-arm het vreeslik gebloei. Sy en haar man is na die Laer Sabie kamp waar die kampbestuurder haar wonde verbind het. Hierna is sy na ‘n dokter in Komatipoort verwys.
“Die vrou wat my wonde verbind het, het gesê ons moet asseblief tog net ry en so gou moontlik by die dokter uitkom.”
In Komatipoort het me. Swart verdere behandeling, asook ‘n klem-in-die-kaak inspuiting en antibiotika, vir haar wond gekry. Sy sê dat die dokter vir haar gesê het dat hulle gereeld pasiënte behandel wat deur wilde diere gebyt word.
“Hy sê dat ek baie gelukkig is. As die aap my in my gesig of nek gebyt het sou dit ‘n ander storie gewees het. Nou moet ek maar net sorg dat die wonde skoon bly en dophou dat ek nie infeksie kry nie.”
Me. Swart sê dat sy ander besoekers aan die wildtuin wil waarsku om lig te loop vir die ape.
“Hulle steel nie net jou kos nie, hulle byt.”
Die voorval het die egpaar egter nie van hul wildtuin vakansie afgeskrik nie. Hulle het by die Berg-en-Dal kamp tuis gegaan en sou vandag eers uit die wildtuin terugkeer.


