News

Video: Pasop vir slimpraatjies in winkels

Sal jy ooit jou handsak en juwele of selfoon vrywillig aan 'n vreemdeling in 'n inkopiesentrum oorhandig? Alhoewel meeste summier "Nee!" sal antwoord, gebeur dit net te gereeld om die saak daar te laat.

‘n Vrou, wie se identiteit nie deur die polisie bekend gemaak is nie, het ‘n klag van roof by die polisie gaan lê nadat sy haar handsak en juwele kwyt is in Checkers in die Middelburg Mall.

Kapt. Khanyisile Zwane sê dat die vrou deur iemand genader is terwyl sy besig was om inkopies te doen. Die vrou het beweer dat sy vir die winkel se sekuriteit werk en dat daar boewe is wat vrouens se juwele en handsakke teiken in die winkel.

Met ‘n klomp slimpraatjies en draaitjies wys videomateriaal hoe daar skielik drie vroue om hul teiken is.

Op ‘n stadium hou een vrou twee verskillende produkte op en vra die slagoffer vir raad.

Dan sien jy met verbasing hoe die teiken haar juwele afhaal, dit in haar handsak sit voordat sy dit aan een van die swendelaars oorhandig.

Sodra die vrou weg is met haar handsak, kan jy sien hoedat die slagoffer kriewelrig raak en besluit om haar te volg, maar sy word teruggeroep deur die ander twee vrouens wat agter gebly het.

Toe sy uiteindelik na die ander vrou gaan soek, is sy skoonveld. Die ander twee swendelaars het intussen ook soos mis voor die son verdwyn.

Die polisie waarsku besoekers aan besige winkelsentrums om op hul hoede te wees.

Vat so min as moontlik waardevolle items saam as jy gaan inkopies doen en hou jou goed aan jou as persoon. Moenie sommer vreemdelinge vertrou nie.

Indien iemand die vroue herken of weer raaksien, kontak die Middelburg polisie speurhoof kolonel Phela Mahlangu by 076 942 5455.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Jana Boshoff

Jana works as a senior support specialist for Caxton digital. Before that she was a journalist at the Middelburg Observer 15 years where she won numerous awards including Sanlam's Up and Coming Journalist, Caxton Multimedia Journalist of the Year, and several investigative awards. She is passionate about people and the stories untold.
Back to top button