News

Meisie op haar verjaardag begrawe

“Ons gee haar op haar verjaardag vir die Here.” Dit is die woorde van me. Stella Stofberg nadat hulle besluit het om haar dogter, Rachelle-Mari, op haar 22ste verjaardag Donderdag te begrawe.

Die ter aarde bestelling is om 10:00 en die diens om 12:00 uit die Witkerk.

Rachelle-Mari (oud-leerling van HTS Middelburg en Lareskool Middelburg) en nog twee PUK-studente het Vrydag gesterf na ’n ongeluk op die N14 tussen Venstersdorp en Krugersdorp. Dié pad staan bekend as die Rysmierbultpad.

Rachelle-Mari is saam met Jeanette Theron, per helikopter na die Baragwanath Hospitaal afgevoer. Rachelle-Mari is egter met aankoms dood verklaar. Jeanette word tans in die intensiewe sorgeenheid van die Milpark Hospitaal behandel.

“Ek het Vrydag half vier nog vir haar ’n boodskap gestuur en vir haar gesê: “Prinses, julle moet veilig ry. Jy moet onthou jy is my stukkie goud en sy het my geantwoord. Dit was die laaste wat ons ooit weer met ons kinders gepraat het,” het me. Stofberg gesê.

Die groep van vier PUK honneurstudente, Rachelle-Mari, haar vriendin Marquerite Brink, Elinda Booysen en Jeanette Theron, was oppad na Elinda se huis in Pretoria waar hulle Elinda (wat al op 16 Februarie verjaar het) se verjaardag sou vier. Volgens me. Stofberg was Elinda se ouers met vakansie toe sy verjaar het en hulle het juis die partytjie uitgestel na dié naweek sodat almal daar kon wees.

Me. Stofberg sê sy het die hele dag gewag dat haar kind moet bel om te sê dat sy veilig by hul bestemming aangekom het, maar die oproep het nooit gekom nie.

“’n Polisiekaptein van Plaatspruit het ons omstreeks 21:00 laat weet dat daar ’n ongeluk was. Marquerite en Elinda is opslag dood en Rachellie en Jeanette is met ’n helikopter hospitaal toe geneem.”

Me. Stofberg en haar man, Johan, het hulle na die Baragwanath Hospitaal gehaas, waar hulle verneem het dat Rachelle-Mari oorlede is en dat Jeanette steeds in teater is, waar dokters vir haar lewe geveg het.

Sy het haar dogter beskryf as “so ’n mooi meisiekind van binne en buite. Sy was ’n Jesus-kind.” Me. Stofberg se WhatsApp profiel is ’n foto van haar dogter, met dié boodskap: “Prinses, mis jou vreeslik! Ons harte is stukkend sonder jou, dankie vir al jou baie liefde.”

“Ons sou op 7 Maart na Potchefstroom gegaan het vir haar gradeplegtigheid.”

Rachelle-Mari was aan die begin van haar honneursgraad in BSc Plant-, Mikro en Dierkunde. “Sy het navorsing gedoen oor al die parasiete wat daar in water is.”

Onderwysers aan HTS Middelburg sal dié skrander meisie onthou wat in haar matriekjaar ses onderskeidings behaal het.

Me. Stofberg sê sy het ook elke jaar verskeie onderskeidings behaal tydens haar studies.

Rachelle-Mari word oorleef deur haar ouers, Johan en Stella, suster Anretha en broer, Arnold. Anretha het Sondag vanaf Nederland geland om haar gesin by te staan.

•Die Universiteit van Noordwes (Pukke) se woordvoerder, Johan van Zyl, het gesê: “Die Noordwes-Universiteit betreur hierdie tragiese voorval en betuig innige meegevoel met hul ouers, familie en vriende.”

• Al vier die studente was besig met hul honneursgrade aan die universiteit.

•Die insittende in die ander voertuig se naam is nie bekend gemaak nie. Daar is betroubaar verneem dat hy ’n vragmotor verbygesteek en toe trompop met die studente se voertuig gebots het.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button