News

Quintin Bernardo se lewe en stryd onthou

Quintin Bernardo, wat ’n moeilike stryd met dwelms en eensaamheid gevoer het, word onthou vir sy soeke na liefde, aanvaarding en ondersteuning.

NOTA AAN LESERS: Hierdie artikel is ná publikasie gewysig.

Min is oor Quintin Bernardo se lewe bekend, maar vir die mense wat hom persoonlik geken het, was hy meer as net een van die mense wat op straat om geld gebedel het. Hulle onthou hom as iemand wat ’n moeilike stryd gevoer het en na liefde, aanvaarding en ondersteuning gesoek het.

Quintin is op 8 Oktober dood aangetref in die huis van ’n weldoener wat hom van die straat af ingeneem het. Die goeie Samaritaan kon nie bereik word vir kommentaar nie.

Volgens sy doodsertifikaat is Bernardo aan natuurlike oorsake oorlede.

Voor sy pa, Clive, se dood, het hulle saam in Mineralia gewoon. Sy ma is ook oorlede toe hy nog baie jonk was.

Min mense kon besonderhede oor sy vroeë lewe verskaf, en selfs sy skool kon nie bevestig word nie. Sy neef, Tommy Pienaar van Pretoria, het gesê hy het Quintin sowat vier jaar gelede laas gesien.

’n Stryd wat min mense geken het

Quintin het die afgelope drie jaar gereeld Serving Disciples se byeenkomste bygewoon. Daar het hy ’n bord kos gekry en geestelike ondersteuning ontvang.

Johan Cornelius van Serving Disciples sê Quintin het gereeld kerk toe gekom en dat dit soms beter met hom gegaan het. “Om alleen te wees, is een van die aakligste goed op aarde. Hy het baie vrae gevra en net liefde en aanvaarding gesoek,” sê hy.

Annamarie Cornelius, wat ook by die bediening betrokke is, sê Quintin het ’n moeilike stryd met dwelms gevoer.

“Hy het ’n begeerte gehad om dwelms te los, maar dit was ’n stryd wat hy verloor het. Ek wens almal kan net verstaan dat elkeen ’n storie en ’n stryd het waarmee hy worstel.”

Sy doen ’n beroep op mense om met begrip teenoor ander op te tree, selfs wanneer hulle nie die volle verhaal agter iemand se omstandighede ken nie.

Aletta Tessa Odendaal Veldtsman onthou hoe sy Quintin eenkeer gehelp het nadat sy Bybel uit sy rugsak gesteel is.

“Ek het gestop en gesien hy is hartseer. Toe vra ek hom wat hy graag soek. Hy het gesê: ‘’n Bybel, asseblief.’ Ek het toe vir hom ’n Bybel gaan koop. Hy het gehuil van blydskap,” vertel sy.

’n Beroep op medemenslikheid

Ná Quintin se dood het verskeie mense op sosiale media hul herinneringe aan hom gedeel en ander aangemoedig om nie iemand op grond van sy omstandighede te beoordeel nie.

Johan Schoeman sê mense wat Quintin geken het, het ook sy goeie eienskappe raakgesien.

Hy het benadruk dat mense dikwels nie weet waardeur ander gaan nie en dat daar meer begrip en ondersteuning in die gemeenskap nodig is.

Begrafnisreëlings

Quintin se begrafnis word op Donderdag 22 Oktober om 10:00 by die Rondebosch-begraafplaas gehou.

’n Paar mense het gehelp om die nodige reëlings te tref sodat hy met waardigheid ter ruste gelê kan word.

At Caxton, every story is written by humans. We use AI only to perform quality checks - never to generate the news. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Tobie van den Bergh

Tobie started as a journalist in September 1975. He was appointed editor of the Middelburg Observer in 1982 where he worked until he retired in 2024. He received numerous awards, is a founding member of the Forum for Community Newspapers and has published two books about his work. Although retired, Tobie is still very much involved in community journalism.
Back to top button