Boer skiet homself… Hondjie waak op plek waar hy dood is
'n Jack Russell hondjie waak al vir dae aaneen op die plek waar sy eienaar homself op 'n plaas geskiet het.

Mnr. Dries Vermeulen (57), ook bekend as Dries “Smous” het homself Saterdagaand kort voor 20:00 op die plaas Roodepoort (sowat 14 km vanaf Loskopdam) geskiet.
Sy verloofde, Riesl Erasmus (47), het Maandagoggend van die gebeure op die plaas vertel.
“Ek weet dit het Donderdag begin reën, maar twee jaar se droogte het sy tol geëis.
Hy kon net nie meer finansieel oorleef nie.
Ek het vele kere vir hom gesê ons moet iewers anders oor begin, maar Dries se voete was vas op die plaas!
Die Selonsrivier was vir maande droog en het Donderdag begin loop, maar dit was net te laat.”
Sy onthou hoe hulle nog Woensdag na die kuil op die plaas gestap het en beide besef het dat daar nog net ‘n week se water in die dam oor is.
Dit het wel Donderdag begin reën, maar die water was te vuil dat hulle dit kon pomp vir gebruik.
“Dries was teen die grond.
Hy het Donderdag skielik opgehou eet en ook nie meer gebad nie.”
Riesl het onlangs aangebied om met die finansies te help en het werk gekry in eMalahleni.
“Hy was ook hartseer omdat ek moes weggaan om te help om die werkers te betaal, maar Dries het nog Saterdagmiddag die buurman, Brandt Coetzee, gaan nooi om saam te kom braai as ‘n afskeid vir my.”
Sy vertel dat mnr. Vermeulen op ‘n stadium gery het en later teruggekom het, maar nooit uit sy bakkie geklim het nie.
Mnr. Coetzee het ook opgedaag en hy en me. Erasmus het solank die vuur aan die gang gekry en die vleis gebraai.
Nadat mnr. Coetzee gery het, het sy weer by die bakkie se venster gaan klop en vir mnr. Vermeulen gesê om in te kom en saam met haar onder die afdak te kom sit, want dit het gereën.
Sy het ook vir hom gesê dat daar iets te ete vir hom is.
Dit was stikdonker, aangesien die krag al van Vrydag af is en sy het hom oortuig om uit die bakkie te klim.
Die oomblik toe hy egter besig was om uit te klim “het Dries iets gesê, maar ek kon nie hoor wat hy sê nie. Die volgende oomblik het die eerste skoot geklap.”
Sy het geweldig geskrik en gesien dat hy net die skoot met sy .303 geweer in die lug afgetrek het. Sekondes later het nóg ‘n skoot geklap.
Me. Erasmus het mooi met hom gepraat en omgedraai om aan te stap huis toe.
Sy was sowat drie treë van hom af, toe sy hoor hy sê: “hier is nog een patroon in die loop.
Ek is nie bang om myself te skiet nie.” Sy was nog besig om om te draai, toe die derde skoot klap.
“Die oomblik toe ek omdraai, het hy op die grond geval.
Ek het net my kop vasgehou, begin skreeu en gehardloop om ‘n selfoon te kry om te bel vir hulp.”
Haar selfoon se battery was pap, omdat hulle al meer as ‘n dag nie krag gehad het nie. Sy het teruggehardloop na sy bakkie toe om sy foon se vat, maar die foon wou nie werk nie.
Mnr. Vermeulen was reeds dood en sy het in haar paniekerige toestand teruggespring in die bakkie en haar eie selfoon by die bakkie ingeprop om dit te laai.
“Daar is nooit sein daar waar die bakkie gestaan het nie, maar op daardie oomblik het die oproep deurgegaan en ek het vir Brandt en Greg van Rensburg (eienaar van die grond) gebel.” Sy het ook mnr. Andre van Wyk (Roseleigh Begrafnisdienste), wat goeie vriende is van mnr. Vermeulen, gebel.
Mnre. Van Rensburg en Coetzee het onderskeidelik die Middelburg en Groblersdal polisie gebel en beide was baie gou op die toneel.
“Die polisie kon nie naby Dries se oorskot kom nie, want sy hondjie, Casper, wou hulle nie naby hom toelaat nie.
Ons moes hom weglok met vleis, maar dit het net ‘n rukkie gewerk, dan hardloop hy weer terug na sy baas toe.”
Die hondjie het Sondag nog op die plek bly lê waar mnr. Vermeulen gesterf het.
Me. Erasmus het gemeld dat sy en mnr. Vermeulen al 21 maande saam was en in Februarie sou trou.
“Dries was so goed vir my. Hy het so mooi na my gekyk,” het sy hartseer gesê.
Mnr. Vermeulen word oorleef deur me. Erasmus, seuns Andries en Karools, stiefdogter Elize en sy pa, Neels.
‘n Roudiens word Woensdag om 10:00 uit die New Life Ministries gemeente in eMalahleni gehou.
• Me. Erasmus sê “ek sou graag sy as in die Selonsrivier in die plaas wou gaan strooi, want hy was só lief vir die rivier. Sy kinders moet egter die finale besluit neem.”
• Sy wil graag al die polisielede, speurders, forensiese afdeling, asook mnre. Coetzee, Janse van Rensburg en mnr. Van Wyk, bedank vir hul hulp en ondersteuning in hierdie tyd.
Lees ander nuus hier:
(Video) Update: Christmas in jail for coffin case suspects
(Breaking News) Coffin case: Only ANC Youth League granted permission to protest
Update: Three major political parties to protest during coffin case
Update: Juju on his way to Middelburg
Opvolg: Doodskis was vir afgestorwe werker
Send a message to our SMS line 33658 or add us onto Facebook and Twitter to receive your free daily news updates.
Also check out our Video’s on Youtube daily!

