News

Cruse wil kameraspan hierheen bring

Professionele gholfspeler en aanbieder van Super Golf, André Cruse (51), het nie net die naweek hier gholf gespeel nie, maar beplan om eersdaags met sy kameraspan op Middelburg te kom kuier en gholfklinieke hier aan te bied.

’n Groot groep professionele gholfspelers soos Cruse, Chris Willimas en Bobby Lincoln, het die naweek op Middelburg toegesak om aan die Pro-Am’s gholftoernooi, as deel van die Suid-Afrikaanse Seniortoer, by die Middelburg Buiteklub deel te neem.

Cruse het ’n baie spesiale plek vir Middelburg en die omgewing, aangesien hy as klein seuntjie sy pa, Ronnie Cruse, se gholfjoggie was as hulle gholf gespeel het op die destydse Pullenshope gholfbaan.

Vandat hy kan onthou wou hy gholf speel, maar 10 dokters het die verdoemende nuus gegee dat hy nooit sal kan speel nie, nadat hy as klein seuntjie ’n ernstige oogbesering opgedoen het.

Cruse vertel dat hy en sy maats “Cowboys en Indiane” gespeel het en dat hy op ’n stadium deur ’n gaatjie in die muur geloer het om te kyk waar die ander is. Op dieselfde oomblik het een van die ander kinders ’n pyl in die gaatjie gedruk en het dit hom direk in die oog gesteek.

Vele operasies later, het hy net 10% sig in sy oog oorgehou. Dit beteken dat hy nie driedimensioneel kan sien nie, “en ek mis 90% van my sethoue na regs!” In baie van sy toernooie doen hy sy sethoue met net een hand, om dié probleem te probeer uitskakel.

Dit het die vasberade gholfliefhebber nie ondergekry nie en het dit hom net nóg meer vasberade gemaak om te wys wat hy kan doen.

Op 21 word hy aangewys as beginner van die jaar en in 1987 begin hy professioneel gholf speel.

Deur die jare het hy al 24 kolhoue gespeel en is die eerste Suid-Afrikaner wat 15 Sonskynreeks-toernooie gewen het.

Hy het verlede week die senior toernooi op eMalahleni gewen. En dit nadat hy vir sewe maande nooit gholf gespeel het na ’n skouerbesering nie! Die naweek het hy tweede geëindig (’n kortkop agter Chris Williams) by die Buiteklub.

Hy vertel allerlei staaltjies soos dat die bekende Nuno da Cunha (Middelburg Nissan) vir hom ’n voertuig geborg het toe hy junior gholfklinieke, waaronder ook in Middelburg, begin aanbied het.

Dan was daar 2001 en 2002 toe hy presies binne ’n jaar twee keer ’n kar gewen het by dieselfde toernooi in Zambië.

Cruse vertel laggend dat hy kort na die eerste kompetisie ’n boek gelees het wat daarop sinspeel dat as jy dieselfde suksesvolle resultate wil hê, jy daarmee moet volhou. En dit is presies wat hy gedoen het. Die volgende jaar het hy met dieselfde lugredery gevlieg, selfde huurkar gery, selfde gespeel én dieselfde kar gewen!

Hy onthou ook hoe hy tydens ’n toernooi in Taiwan raakgesien is deur ’n biljoenêr, Johnny Billomar, wat nie kon glo dat daar niks gedoen kan word vir sy oog nie.

“Hy het gesê ‘money can buy everything” en het 5 000 dollar betaal dat ek die beste spesialis kon sien, net om dieselfde verdoemende nuus vir hom te gee. Hy kontak my steeds gereeld om uit te vind of daar nog nie nuwe tegnologie is om my sig te verbeter nie.”

Vele sal die prettige Kyknet reeks, “Voorgee” onthou wat Cruse aangebied het saam met die akteur Francois Lliam, wat nie veel geweet het van gholf nie. Met hierdie program is die reëls van die spel uitgelig, asook die toerusting wat gebruik word op bane.

Sportsielkundige Theo Bezuidenhout en, soos Cruse, ook ’n Sonskynreeks-wenner Dougie McGuigan, was van die gasaanbieders. Cruse sê hulle kyk daarna om dalk weer die reeks te begin met hom as aanbieder.

Die laaste vyf jaar is Cruse die aanbieder van Super Golf, ’n insetsel op Supersport, Woensdagaande op DStv, kanaal 201.

Hy sê die beplanning is om vroeg aanstaande jaar ook ’n program by die Middelburg Buiteklub te kom skiet.

• Sy vrou, Suretha, is die hoof van die Voyager Lugredery, besit haar eie vliegtuig en vlieg hom soms heen en weer na toernooie toe.

Cruse se ma, Julie (72), is op 2 Junie 2012 in haar huis in Pullenshope doodgemartel. Haar moordenaars het haar onder andere met ’n strykyster gebrand.

André het op daardie stadium aan die Swazi Sunshine Gholfreeks deelgeneem. Hy sou later daardie week deelneem aan die Malawi Ope, maar het dit gekanselleer om sy ma se begrafnis op Pullenshope by te woon.

Hy sê hy het hom destyds gedistansieer van die media, omdat “ek geweet het dat daar niks van sou kom nie. As dit op enige ander plek in die wêreld gebeur het, sou geregtigheid geskied het.” Me. Cruse se moordenaars is steeds op vrye voet.

 

For daily news updates: 

Send a message to our SMS line 33658, like us on Facebook and follow us on Twitter.

For videos check out our YouTube channel.

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Check Also
Close
Back to top button