Pa wag al maand om vrou te begrawe
Bykans ’n maand nadat sy vrou Candice in ’n motorongeluk verkool het, kan mnr. Willem van der Berg haar nogsteeds nie begrawe nie.
Intussen moet hy die sterk pa wees vir sy dogtertjies Quanika (5) en Dinique (4).
Candice het op 9 November in ‘n ongeluk op die R555 (Middelburg/eMalahlenipad) verkool, maar hy wag vir DNS-toetse.

Klein Quanika se bloed is Vrydag getrek in ‘n poging om die proses te versnel en mnr. Van der Berg het privaat DNS monsters laat neem omdat die staat so lank sloer.
Sy vrou, Candice (35), was vier maande swanger toe sy gesterf het.
Die patoloog wil tot op hede nie ‘n doodsertifikaat uitreik voordat DNS-toetse nie haar identiteit bevestig nie.
Vele navrae aan die ondersoekbeampte tot laat verlede week, het ook op niks uitgeloop nie.
Teen Vrydag kon mnr. Van der Berg nie langer wag nie en het ‘n plaaslike laboratorium genader om hom te help. Weefselmonsters is van sy vrou se oorskot geneem en daar is bloed getrek van Quanika om die DNS te vergelyk.
Mnr. Van der Berg sê die laboratorium beweer dat hierdie toetse gewoonlik vyf dae neem, maar dat hulle hul bes sal doen om dit vroeër beskikbaar te stel.
Hy hoop om teen Woensdag of Donderdag die bevestiging te kry dat dit sy vrou is en dat hulle met reëlings kan begin vir ‘n roudiens.
• Tussendeur al die hartseer, het mnr. Van der Berg verlede week ‘n oproep van ‘n patoloog in die provinsie gekry wat hom meegedeel het dat hulle weefselmonsters kan neem en dit aanstuur na Durban om te bepaal of dit sy vrou is.
“Hy het vir my gesê dit gaan egter tussen R8 000 en R10 000 kos!”
• Mnr. Van der Berg het gemeld dat daar by hul tandarts X-strale is van haar tande.
“‘n Patoloog van Pretoria het gesê dat hy binne ‘n halfuur met die X-strale en haar tande kan bepaal of dit wel sy is. Maar dan moet ons haar oorskot in Pretoria kry!”
Hy gaan eers wag en kyk of die DNS-toetse wat tans gedoen word bepalend is. Kom hy nié reg daarmee nie, sal hy die ander moontlikheid oorweeg.
