News

“My skrumskakel, my spanmaat, my vriend…”

“Joost het my geleer om nóóít op te gee nie en om positief te bly, selfs in baie swaar tye. Ons het ’n besonderse vriendskap gehad, al het ons beide om die nommernegetrui by die Bulle gewedywer.”

“Joost het my geleer om nóóít op te gee nie en om positief te bly, selfs in baie swaar tye. Ons het ’n besonderse vriendskap gehad, al het ons beide om die nommernegetrui by die Bulle gewedywer.”

Só sê Middelburg se Conrad Breytenbach – Van der Westhuizen se vriend, spanmaat en mede-skrumskakel by die Blou Bulle.

“Sjo, ek was baie op die plaasvervangersbank terwyl hy in die beginspan was, maar in dieselfde asem het ek ook baie speelkans gekry wanneer hy by die Springbokke betrokke was. Ander kere het ek op vleuel uitgedraf, terwyl die afrigterspan hom op skrumskakel laat speel het.”

Van der Westhuizen groet die skare op Ellispark...FOTO: Ettienne van Rensburg.
Van der Westhuizen groet die skare op Ellispark…FOTO: Ettienne van Rensburg.

Tog het hul skrumskakelkompetisie nie hul vriendskap belemmer nie. En Breytenbach vertel dat hul veral tydens oefensessies die ander nommerneges gas gegee het.

“Ons wou die eerste keuse skrumskakels in Pretoria wees en ons het baie druk op die ander ouens gesit. Ons wou gedurende ’n oefening seker maak hulle kom nie verby ons nie.”

’n Suiwer aangee, driedrukvermoë en ’n kanniedoodhouding was onder andere Van der Westhuizen se sterk punte op die rugbyveld.

Franco Smith, Conrad Breytenbach, Andre Snyman, Jannie Kruger, Joost van der Westhuizen en Pierre Ribbens kuier saam met hulle geliefdes jare gelede.
Franco Smith, Conrad Breytenbach, Andre Snyman, Jannie Kruger, Joost van der Westhuizen en Pierre Ribbens kuier saam met hulle geliefdes jare gelede.

“Ons het altyd gesê dat Joost met die goue lepel gebore is. Hy het net die besonderse gawe gehad om teen die verloop van spel met die bal weg te breek en ’n drie te druk. Hy kon ’n bal skop en male sonder tal sou hy dit weer self gevang het. Dan kon hy ook spelers laat lyk asof hulle stilstaan wanneer hy verby hulle seil.”

Volgens Breytenbach was daar veral een toets waarin Van der Westhuizen ál sy toorkunsies uitgestal het. En dit was teen Skotland op Murrayfield.

“Ek en my pa (Schalk) was daardie dag op Murrayfield saam met die Polisie se nasionale span en ek onthou hoe Joost net spontaan links om die skrum gebreek het om ’n drie te druk. Min skrumskakels beskik oor die vaardighede om só ’n drie te druk, juis omdat die verdediging dit nie toelaat nie.”

joosrt3 (LL ZN)

En wie sal ooit Van der Westhuizen se duikslag op Jonah Lomu in die 1995 Wêreldbekereindstryd op Ellispark vergeet?

“’Dit was ’n skrumskakel se werk om vir Lomu op te pas want ’n nommernege kan sy verdedigingslyne aanpas. Joost het dit natuurlik gedurende die Wêreldbeker vervolmaak.”

Maar tussendeur die oefensessies en wedstryde was daar darem ook tyd vir gesonde kattekwaad.

“Ons was ’n goeie groep vriende – ek, Joost, Pierre Ribbens, Krynauw Otto, Andre Snyman, Jannie Kruger en Franco Smith – en ons het altyd alles saamgedoen terwyl ons gespeel het.

Op toere was ons bekend as die Brandblusserbende en ons twee het baie manne nagmerries in die hotelle gegee met die einste brandblussers. Ons moes dit natuurlik elke keer vervang en uit ons eie sak betaal; maar dit het vir baie pret gesorg!” vertel ’n laggende Breytenbach.

“By sy huis in Bronkhorstbaai moes ons op ’n keer net in ons onderbroeke van die dek afspring omdat ons ’n poelwedstryd verloor het. Daar was ook gereeld pokerspelsessies waar ons moes opdress – iets wat vir baie lag gesorg het.”

Breytenbach het ’n paar jaar gelede Kaap toe getrek, wat beteken het dat hy sy ou vriend maar selde gesien het. Te danke aan ’n WhatsApp-groep vir oud-Blou Bulle het hy egter op hoogte van Van der Westhuizen se welstand gebly.

“Joost was ’n wenner en hy het altyd geoefen soos wat hy gespeel het – geen genade en 100% commitment. Sy storie het ook my uitkyk op die lewe verander. Ons moet besef ons tyd op aarde is min en dat ons elke sekonde, sowel as die mense op ons lewenspad, moet waardeer en koester.”

• Breytenbach en Van der Westhuizen het van 1991 tot 2000 saam vir die Blou Bulle gespeel.

• Wat was Van der Westhuizen se sterkste karaktereinskappe?

“Sonder enige twyfel sy positiwiteit en natuurlik om sy spanmaats deur sy voorbeeld te lei en te inspireer. Sy mooiste woorde was: ‘wen bou karakter en verloor bied jou die kans om die einste karakter te gebruik’.”

• Van der Westhuizen het in altesaam 89 toetse vir die Springbokke uitgedraf. Sy 38 drieë in toetsrugby was vir lánk ’n nasionale rekord. Hy is vroeër die week oorlede ná ’n lang siekbed. Motorneuronsiekte is in 2011 by hom gediagnoseer. Hy is gister oorlede.

•Breytenbach was Hoërskool Middelburg se nommer een skrumskakel tydens sy matriekjaar.

 

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Johann Gresse

Journalist at Middelburg Observer
Back to top button