Sol-Tech bou aan ‘n toekoms vir jongmense
Alhoewel ek Sol-Tech, Solidariteit se eie tegniese opleidingskollege in Kirkney, Pretoria al male sonder tal besoek het, staan ek elke keer stom-verbaas oor die indrukwekkende groei en vooruitgang wat die kollege van besoek tot besoek behaal het.

Dit is na my mening veilig om te sê dat Sol-Tech besig is om een van dié mees moderne en vinnig groeiende opleidingskolleges vir ambagslui in Suid-Afrika te word.
Hoewel Sol-Tech slegs ongeveer 10 jaar bestaan, bied die kollege opleiding in skaars vaardighede aan sowat 1 000 voltydse studente, wat ondermeer meulmaker, passer-en-draaier en gereedskapmaker insluit, en hierdie beroepsrigtings vul groot leemtes in die Suid-Afrikaanse arbeidsmark.
Dit is egter die wyse waarop Sol-Tech se studente opgelei word, waar die geheim van die kollege se sukses lê.
Die dae waar gereedskap en ander ambagsverwante produksie slegs per hand gedoen word is verby.
Daar is ‘n toenemende tendens waar gesofistikeerde masjinerie in die ambagswêreld gebruik word om in pas met die vraag van die groeiende mark te bly en dit is hier waar Sol-Tech homself van ander tegniese opleidingskolleges onderskei.
Sol-Tech is voortdurend besig om die nuutste praktyke en toerusting wat in die industrie gebruik word aan te skaf en in gebruik te neem sodat studente reeds op opleidingsvlak aan hierdie tipe toerusting blootgestel word.
Studente het ook die voordeel om op baie van hierdie hoogs-gespesialiseerde toerusting simulasies te hardloop om hulle sodoende op die beste manier denkbaar op te lei en voor te berei.
Sol-Tech studente is weens die opleiding wat hul ontvang ongelooflik gesog wanneer hulle die arbeidsmark betree en dit is dus nie verbasend dat 94,7% van Sol-Tech-studente tans betrekkinge beklee nie.
Met Sol-Tech-dosente wat hul passie in Afrikaans uitleef het Sol-Tech-studente elke moontlike pyl in hul koker om van hul loopbane ‘n reuse sukses te maak.
In ‘n arbeidsomgewing waar werkloosheid veral onsolider jongmense hoogty vier, rus Sol-Tech jongmense toe om in ? kompeterende arbeidsmark met groot sukses mee te ding.
Bou saam met Solidariteit aan kwaliteitinstellings soos Sol-Tech. SMS BOUSAAM na 34802.
