News

Camen Dee? Leigh? Sharpley-White?

’n Vrou wat twee keer verlede week by gastehuise oorgeslaap het sonder om te betaal, wou hierdie week hê die koerant moet haar uit dié tameletjie help.

Is sy Carmen Leigh, of is dit nou Carmen White-Sharpley, Carmen Cant of Carien Dee?

Wat die Observer wel weet is dat sy reageer het op die naam ‘Carmen’. Dat daar voor in ’n boek wat sy by een gastehuis vergeet is, dié naam staan en dat voorskrifmedikasie wat in haar kamer was, uitgemaak is aan Carmen White-Sharpley.

’n Gastehuis-eienaar (wat anoniem wil bly) het Maandagoggend woedend by die koerant ingestap en gesê dat sy ander gastehuise wil waarsku teen die vrou, wat haar voorgedoen het as “Carien Dee”.

Sy sê dat die vrou gevra het vir verblyf vir ’n week, aangesien haar man in die Life Midmed Hospitaal opgeneem is.

“Sy het gesê dat hulle van Nelspruit af kom en dat haar man die oorbetaling vir verblyf uit die hospitaal uit sal doen.”

Elke keer as daar gevra is wanneer sy gaan betaal, het sy gesê sy wag net dat haar man dit moet doen.

Met haar terugkeer die aand, het sy ’n selfoonboodskap vir hulle gewys met ’n ‘kamtige bank sms’ dat die geld oorbetaal is.

“Sy het die nag daar geslaap en vir haar ’n ete én koeldrank bestel!”

Die gastehuis-eienaar sê sy het onraad vermoed toe die vrou met haar gesels en háár (eienaar) skielik “Carien” noem.

Daar is vir haar gesê dat sy kan kyk op haar e-pos of daar nie ’n bewys van betaling deurgekom het nie, aangesien haar man ’n e-pos na die gastehuis gestuur het.

“Ek het ’n mail gekry van ’n ene Flip Dee af, maar daar was géén aanhangsel nie. Sy het natuurlik daar buite gaan sit en dit sommer self van haar selfoon af gestuur!”

“Carien” het gesê sy gaan wéér haar man besoek en uitvind wat gaan aan.

Die gastehuis-eienaar het besef sy word ingeloop en het self die hospitaal gebel om te hoor of daar so ’n pasiënt is. Die hospitaal het haar verseker daar is beslis nie so ’n persoon by hulle nie.

Sy het “Carien” gebel en haar konfronteer oor haar leuens en vir haar gesê dat sy ander gaste moes wegwys omdat sy die kamer uitgehou het vir haar. “Carien” het egter nooit teruggekeer nie.

“Buiten die geld wat sy skuld vir die verblyf, is sy ook weg met die gastehuis se sleutel, die hek se afstandbeheer en die kluissleuteltjie!”

Die vrou glo dat daar “iets groots in Carien, of wat haar naam ook al is, se lewe verkeerd geloop het dat sy so loop en jok!”

In die kamer waar “Carien” gebly het, het sy ’n boek gekry met die naam: “Devil, Demons and Spiritual Warfare.”

Kort nadat sy uitgevang is oor haar leuens by dié gastehuis het sy aangeklop by ’n ander gastehuis en ook vir ’n week bespreek.

Die bespreking is gedoen deur Booking.com en sy het sommer 06:00 al opgedaag.

Vir dié gastehuis het sy gesê dat haar vriend, Jason, die vorige aand al die oorbetaling gedoen het.

“Jason is van Edenvale en is baie besig in vergaderings.”

Hierdie gastehuis het sy vir twee dae aan ’n lyntjie gehou met betalings beloftes en het hulle met haar slimpraatjies selfs oortuig om met haar na die kitsbank te ry, waar die geld elke keer nie beskikbaar was nie.

Hulle moes haar ook by die Hervormde Kerk, Noord gemeente aflaai.

“Haar pa is kwansuis ’n dominee van Sabie en sy het gesê hy in ’n vergadering by die kerk en dat sy daar vir hom sal wag.”

Ook aan hulle is ’n sms gewys van “inbetalings”, maar hulle het nooit hul geld gekry nie.

By hierdie gastehuis het sy haar bankkaart gelos.

Een van die gastehuis-eienaars het ’n ander gastehuis teen die vrou gewaarsku, wat haar vroeg hierdie week laat weet het dat sy wel by hulle aangeklop het vir verblyf, maar dat hulle haar weggewys het.

• Die Observer het Carmen gebel vir kommentaar wat bevestig het dat sy by die gastehuise oorgeslaap het.

Sy het gesê dat sy die afgelope week in die Middelburg Hospitaal is en nie kans gekry het om die gastehuise te gaan betaal nie.

Sy het sommer die joernalis gevra om die gastehuis-eienaars te kontak sodat hulle háár kan bel om ’n reëling te tref vir betaling.

“Ek verstaan dat hulle kwaad is, want ’n mens kan nie net in Spar ingaan en goed vat sonder om te betaal nie. Ek sal op die laaste Vrydag hul geld vir hul gee.”

• In 2015 het besighede die koerant genader nadat sy haar hare laat doen het vir R1 200 en nie betaal het nie. Daarna het R3 500 gevolg vir ’n bakkie se kollig en kabels, ’n sitkamerbank en selfs petrolgeld.

In daardie tyd het sy ook twee ID-dokumente gebruik, Cant én White-Sharpley.

Allerlei hartseer stories is aan die koerant vertel dat sy onder andere in ’n hofgeding gewikkel is en dat die wanbetalings was omdat sy nie onderhoud kry nie en daar nie genoeg fondse in haar rekening was nie.

Sy het dadelik nadat daar destyds op Facebook ’n storm om haar kop losgebars het, haar skuld vereffen.

Haar woorde aan die joernalis was: “Ek weet dat ek deure agter my toemaak, en besef dat my familie ook nie veel langer vir my in die bresse gaan tree nie. Derhalwe poog ek nou om my lewe in orde te kry.”

• Carmen het tans twee Facebook profiele, Carmen Leigh en Carmen White-Sharpley.

Haar laaste inskrywing op Facebook was: “1 July…it’s done!”

At Caxton, we employ humans to generate daily fresh news, not AI intervention. Happy reading!

Support local journalism

Add The Citizen as a preferred source to see more from Middelburg Observer in Google News and Top Stories.

Daleen Naude

Daleen Naudé is the news editor of the Middelburg Observer, Observer Daller and the Observer Express. In 2024, she was named FCJ Journalist of the Year for the second time, and has won numerous other accolades during her illustrious 36-year career. As an industry leader in investigative reporting, Daleen has uncovered various hidden truths in her time at the Observer.
Back to top button