Ontvoerder skiet op agtervolgers
Die skote het geklap na 'n beweerde ontvoerder op verskeie sekuriteitsmaatskappy losgebrand het.
Mnr. Hardus Roux van Gunmar Sekuriteit het omstreeks 10:30 teruggekeer na sy kantoor toe hy ‘n verdagte voertuig naby Q-Lity Meat in Van Riebeeckstraat opmerk.
“Ek het gesien hoe ‘n verdagte man ‘n vrou aan haar hare rondruk en haar in ‘n voertuig probeer indwing. Ek kon sien sy was bang en het nie geweet wat om te doen nie,” sê mnr. Roux.
Hy vertel dat hy die man probeer stop het, maar dat die verdagte in sy voertuig geklim en weggejaag het.
Mnr. Roux het die voertuig agterna gesit in die rigting van Marble Hall op die Vaalfonteinpad.
“Ek het ‘n paar kilometer uit die dorp uit besef dat die verdagte voertuig te vinnig ry en dat ek hom nie alleen sal kan vaskeer nie. Ek het oor die radio geroep, waarna Lezmin Sekuriteit, Loskop Alarms en lede van Marble Hall Buurtwag die pad vorentoe af gesper het,” sê mnr. Roux.
Hy sê dat daar drie keer uit die voertuig op hom geskiet is.
‘n Paar kilometer voor Marble Hall het die verdagte ook op die sekuriteitsmaatskappye wat hom ingewag het geskiet. Die skieter het beheer oor sy voertuig verloor en in een van Lezmin Sekuriteit se voertuie vasgery.
Die man is toe gearresteer. Niemand is in die voorval beseer nie.
• Mnr. Roux bedank Jan, Nico en Jastin van Gunmar Sekuriteit, Dirk, Paul en Bertus van Lezmin Sekuriteit, Allen en Yusuf van Loskop Alarms, Groblersdal verkeer en Gert Snygans vir hul bystand.
