Om ouers in hierdie ondraaglike pynpad by te staan, word daar op 9 November om 18:30 ’n spesiale praatjie vir gesinne aangebied by die Corpus Christi gemeente.
Die spreker is ’n pa wat self sy kind verloor het deur selfmoord. Dr. Henk Gous was ’n leraar van die NG Kerk Quellerina in Roodepoort, Gauteng (voorheen studenteleraar in PUK-Kandelaar in Potchefstroom, en leraar in Vanderbijlpark-Suid).
Hy dien op ’n wye gebied in die NG Kerk as leier, waaronder voorheen Moderator van die Sinode van Wes-Transvaal, voorsitter van die Algemene Jeugkommissie en ondervoorsitter van die Kuratorium van die Teologiese Fakulteit by UP.
Naas jeugwerk is pastoraat en prediking fokuspunte in sy bediening. Sy sportsoorte is fietsry en stap, met natuur en avontuur as ander stokperdjies.
Sy vrou, dr Ansie Gous, is ’n kliniese sielkundige.
Dr. Gous het na die dood van sy sestienarige dogter, Janie, die boek, “Om die ondraaglike te dra” geskryf na aanleiding van die worsteling en smart wat hy self ervaar het.
In die boek help hy ander gesinne om hul eie smart aan God oor te gee.
Deur die boek word lesers gewys dat sterk en gelowige mense ook soms swak is en mag huil.
Hy fokus in die boek op veral depressie, selfmoord en rou smart.
Dr. Gous is ook die skrywer van “Stres in die werkplek” en “wat maak jou gelukkig.
Vir enige navrae rakende die geleentheid, bel Tobie van den Bergh (redakteur, Middelburg Observer) by 013 243 1434.
